Skip to main content

Ek en my man is baie lief daarvoor om ons kinders met boekies of speelgoed te bederf. Is dit as gevolg van skuldgevoelens, of wil ons net goed wees vir hulle? Daar’s seker niks mee verkeerd om die beste vir jou kinders te wil hê nie, maar ons moet onsself gedurig daaraan herinner dat die beste dinge nie materiële dinge of selfs geleenthede is nie. ‘n Goeie introspeksie vraag wat ouers vir mekaar kan vra is: “Wat moet ons regtig vir ons kinders gee? Wat is op die oomblik dit wat hulle regtig nodig het?”

Doen dit so:

Maak eerstens ‘n lysie van die top 3 dinge WAT jy wil kweek. My antwoord sal wees:

  • ‘n liefde vir mense
  • ‘n sin van verantwoordelikheid
  • en ‘n goeie selfbeeld (dis nou natuurlik buiten geloof).

Wat sal jou antwoord wees?

Vra tweedens HOE jy dit gaan gee. Dink prakties na oor hoe jy dié waardes kan kweek by jou kinders of ‘n ruimte kan skep waarin hulle dit kan leer? My antwoord sal die volgende behels:

  • ‘n Liefde vir mense – om mekaar in die huis met respek te hanteer, om versigtig te wees hoe ons oor ander mense praat en om ons te omring met ‘n verskeidenheid van mense en vriende.
  • ‘n Sin van verantwoordelikheid – om ouderdomsgepaste keuses te gee, om gevolge van dade te leer, om deursettingsvermoë te prys, en om saam as gesin take aan te pak.
  • ‘n Goeie selfbeeld – ons het die gebruik begin om elke aand saans vir ons seuntjie te sê waarop ons trots is (dinge wat hy gedoen het en goeie eienskappe wat ons gedurende die dag in hom raakgesien het).

Derdens moet jy / julle dikwels hierdie eenvoudige lysie herdink en evalueer hoe dit gaan. Is julle nog op die regte waardes gefokus? Is die ruimte geskep vir dié dinge om te groei? “Gee” jy nog vir jou kinders die regte dinge?

“Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra.” Matt 7: 9-11

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).