Skip to main content

Die term “inter-ouderdom”
“Inter-ouderdom” of intergenerasionele geloofsvorming verwys na geleenthede waar verskillende ouderdomme (en soorte) mense intensioneel byeengebring word met die doel om saam uitdrukking te gee aan geloof. In Engels word die term “intergenerational faith formation” hiervoor gebruik.  Dit is geleenthede in die gemeente se werksaamhede, soos eredienste, kampe, gemeente-etes, kleingroepe of huisgeloof waar mense van alle ouderdomme mekaar se geloof vorm en só groei.

Kenmerke van inter-ouderdom of intergenerasionele geloofsvorming

  • Alle ouderdomme kom tuis
    Inter-ouderdom geloofsvorming is nie bloot ‘n geleentheid waar mense van verskillende ouderdomme in een lokaal, byvoorbeeld in ‘n tradisionele erediens, fisies teenwoordig is nie. Dit is meer as dit. Dit is wanneer ‘n geleentheid so ingerig word dat alle ouderdomme tuiskom. Dié geleentheid, byvoorbeeld die erediens, is dus op al die ouderdomme gemik en almal se geloof word daardeur gevorm. Al die ouderdomme is ewe belangrik en het ewe veel eienaarskap en “plek” in die ruimte.
  • Dit is deelnemend en interaktief
    Dit is deelnemend, omdat almal as deel van die liggaam van Christus geag word en vrymoedig kan deelneem aan die aktiwiteite en rituele. Kinders, bejaardes, gestremdes, randfigure en ander mense (wat nie gewoonlik histories deel gevorm het nie), word dus ook intensioneel ingesluit. Almal se stories word gedeel en elkeen se lewenservaring word geag. Daarom word dit ook interaktief ingerig sodat verskillende mense van verskillende ouderdomme ook ruimte het om mekaar te kan beïnvloed.
  • Dit behels wederkerige geloofsvorming
    Dit beteken dat dit nie net een ouderdom is wat die ander (eenrigting) se geloof vorm nie. Tydens tradisionele kategese is twee ouderdomsgroepe teenwoordig, maar dit is nie inter-ouderdom as sulks nie, omdat dit meerendeels die kategeet is wat ‘n groep kinders se geloof (eenrigting) vorm. In ‘n tradisionele erediens is daar ook gewoonlik meer as een ouderdom teenwoordig, maar dit is ook nie wederkerig of interaktief nie.  ‘n Predikant (van ‘n spesifieke ouderdom) gaan gewoonlik eensydig voor en kommunikeer dan hoofsaaklik met slegs die volwassenes. ‘n Tradisionele erediens akkommodeer dalk kinders, maar die kinders word die meerderheid van die tyd verdra eerder as betrek. Tydens ‘n daadwerklike inter-ouderdom byeenkoms is almal egter die voorwerp en die onderwerp van die geleentheid en almal kan dus gee en ontvang. Ware inter-ouderdom geloofsvorming geleenthede skep dus ‘n ruimte waar verskillende ouderdomme mekaar se geloof kan beïnvloed. Dit is ‘n ruimte waar grootmense ook by kinders leer.
  • Seggenskap en mag word versprei
    In ‘n inter-ouderdom byeenkoms neem ‘n verskeidenheid van mense verantwoordelikheid en almal voel dat die ruimte aan hulle behoort.  Elkeen ervaar dat hulle die vryheid het om die geleentheid te beïnvloed en ander se geloof te vorm deur hulle teenwoordigheid en bydrae.  Mense met ‘n verskeidenheid van gawes dink en beplan die geleentheid saam en beïnvloed dus die inhoud, atmosfeer en uitkoms. Seggenskap en mag is dus versprei en word nie volgens ouderdom of posisie bepaal nie.
  • Inter-ouderdom geloofsvorming omarm diversiteit
    Hierdie ruimtes omarm diversiteit ten opsigte van ouderdom, maar ook kultuur, taal en ras. Ander verskille tussen mense word ook in ag geneem, byvoorbeeld kinders wat tuis onderrig word of kinders met verstandelike of ander uitdagings. Tydens inter-ouderdom geleenthede word alle mense met menswaardigheid hanteer, byvoorbeeld mense met gestremdhede, mense uit ander agtergronde, nie-tradisionele gesinne, of mense wat anders glo as die status quo.
  • Dit word kreatief aangepak
    Inter-ouderdom geloofsvorming is dus ook baie vindingryk omdat dit vars maniere van interaksie en deelname wil bevorder. Tradisionele liturgiese elemente word gebruik, maar word nuut ingespan sodat dit deelname, insluiting, en interaksie kan verhoog. Die liturgie sal dus so ontwerp word om al die sintuie van mense aan te raak, asook om mense met verskillende style en vermoëns in verskillende ontwikkelingsfases te betrek.

~Ds Anriëtte de Ridder

 

Hierdie artikel is ‘n kort uittreksel uit ‘n hoofstuk in die boek “Ongekaart.  ʼn Bronboek met roetemerkers vir oorgange”. Cas Wepener en Anandie Greyling (Samestellers).
https://eshop.bybelmedia.org.za/product/ongekaart/

Leave a Reply