Mense beleef God op verskillende maniere. Party mense beleef God deur iets nuut van God te verstaan of te lees. Ander beleef God deur musiek en emosies. Sommige verkies dit om iets prakties met hulle hande te doen en God só te beleef. Nog ander verkies om stil te word en God te aanbid.
Een teorie wat ons help dit te verstaan, groepeer hierdie verskille in 4 spiritualiteit tipes. Vir elkeen is daar ook ‘n simbool en kleur toegeken, naamlik:
- kop (hulle ervaar God deur hulle intellek, rede en geloofsoortuigings) (blou);
- hart (hulle ervaar God deur hulle emosies, warmte en persoonlike verhoudings) (rooi);
- hand (hulle ervaar God deur aksie te neem, hulle toewyding en diens) (groen);
- en vlam (hulle ervaar God deur die mistieke, die natuur, stilte en ontsag) (geel).
Hierdie spiritualiteit tipes sluit natuurlik ook aan by die vier pote van geloofsvorming: kennis, verhoudings, aksie en aanbidding. Al vier hierdie aspekte is nodig vir geloofsvorming. Ons spiritualiteit tipe dui dus op ons voorkeur en help ons verstaan hoe ons God ervaar, maar dit is soms juis nodig om buite jou gemaksone te verkeer om te groei – nader aan God, nader aan ander en nader aan jou naaste.
Die 4 spiritualiteit tipes vorm dus ook ‘n geheel, en as ‘n indiwidu of gemeente oormatig fokus op een van die vier tipes, kan dit ook ‘n gevaar inhou van rasionalisme (kop), emosionalisme (hart), moralisme (hand) of onttrekking (vlam).
Geskryf deur Anriëtte de Ridder