Skip to main content

Goeie Vrydag is sekerlik een van die belangrikste dae in die Christen kalender en dit word saam met Paassondag wêreldwyd deur miljoene Christene herdenk. Die kruisiging en opstanding van Jesus is die kern van ons geloof en die draaipunt van ons geloofstorie. In Suid-Afrika is Paasnaweek sinoniem aan familie tyd, en juis daarom is dit ‘n wonderlike geleentheid om dié spesiale dag saam as familie of vriende te vier en die betekenis daarvan opnuut julle eie te maak.

Dalk vier julle dit deur nagmaal by te woon Donderdagaand, of ‘n erediens Vrydagoggend of Sondag. Maar selfs al kamp julle iewers ver van enige kerk, kan julle dit as familie met kinders, tieners, studente, grootouers of vriende sinvol inrig.

Luister hier na die podcast of lees die artikel verder:

Doen die volgende voorbereiding:

  1. Maak seker hierdie podcast is op jou foon afgelaai sodat jy dit kan luister al is julle buite sein.
  2. Laai ook die DinkJeug Familie App af op ‘n foon sodat julle na die oordenkings saam kan luister.
  3. Indien julle buite bereik van sein is, kan julle ook vooraf op dinkjeug.co.za oulike hulpmiddels en crafts uitdruk om saam te neem deur die skakels te volg. Daar is byvoorbeeld spesiale Paaspakkies beskikbaar. Dis lekker vir die kinders om kreatief te raak, so onthou ook om skryfbehoeftes in te pak.
  4. Neem ook ‘n Bybel en Kinderbybel saam of laai ‘n toep af soos The Bible App waarop jy dit kan lees (maak egter seker die Bybelvertaling van jou keuse is ook binne die app afgelaai, sodat jy dit ook sonder sein kan lees).
  5. Jy sal ook die kleutervriendelike video’s van die kruisiging op YouVersion se toep “Bible for Kids” vind en jy kan dit stel om in Afrikaans te speel. Daar is ook talle ander kindervriendelike video’s op YouTube – kyk gerus na DinkJeug se YouTube kanaal.

Spreek ‘n tyd af met jou familie of vriende en verduidelik dat julle op ‘n informele manier Goeie Vrydag gaan herdenk. Almal, oud en jonk, kan deelneem aan die aktiwiteit en gesprekke en só die kruisverhaal opnuut hulle eie maak.

Wanneer julle bymekaar is, kan jy hierdie podcast speel en telkens die “pause” knoppie druk na elkeen van die stappe om dit eers saam uit te voer.

  1. Almal soek en bring ‘n takkie of blaar om vir mekaar te wys. Herinner mekaar aan die gebeure van Palmsondag en gesels oor die vraag: Waarvoor wil jy vandag Jesus loof?
  2. Tel hoeveel skoene daar in totaal in julle familie / huis / groep is waar julle Paasnaweek hou. Skoene (of eerder voete) herinner ons aan Jesus wat sy dissipels se voete gewas het kort voor sy kruisiging. Vertel vir mekaar wat julle onthou van die verhaal en wat jy dink Jesus vir ons daardeur leer.
  3. Soek items in die natuur of in die huis wat brood en wyn kan voorstel. Lees saam Matteus 26:26-30 en laat die kinders dan aan die grootmense verduidelik wat die tekens beteken.
  4. In die tuin van Getsemane het Jesus gebid voor sy kruisiging. Vind elkeen of 2-2 ‘n stil plekkie en bid vir mekaar / jou eie behoeftes. Gee so 5 minute hiervoor.
  5. Toe Jesus gevange geneem is, het Petrus daarna vir Jesus 3 keer verloën en daarna het die haan 3 keer gekraai. Vind ‘n veertjie of luister of julle ‘n voëltjie kan hoor of sien.
  6. Vind elkeen iets wat pers is. Pers is ‘n koning se kleur. Gesels oor Jesus wat Almagtige Koning en onskuldig is, maar verhoor is as ‘n hulpelose misdadiger.
  7. Jesus is ook geslaan voor Hy gekruisig is. Vind ‘n stokkie en trek elkeen ‘n streep daarmee in die sand / op die grond.
  8. Daarna is Jesus gekruisig. Maak saam ‘n kruis uit items wat julle in die natuur vind. Gesels daarna oor die vraag: Hoekom moes Jesus sterf? Lees gerus ‘n deel uit die Bybel of Kinderbybel saam.
  9. Vind nou elkeen ‘n klippie en gesels oor Jesus wat toe in die graf geplaas is en die klip wat voor die graf gerol is. … Sondag, op die derde dag nadat Jesus gesterf het, is die klip weggerol en die graf was leeg. Gesels oor die dood wat nie die einde van die storie is nie en hoekom Jesus weer opgestaan het uit die dood.
  10. Jesus het verskyn aan die vroue en die dissipels. Vind ‘n blom wat wys op nuwe lewe.

Sluit nou af deur ‘n kruis op mekaar se hande te teken met ‘n vinger en hierdie woorde vir mekaar te sê: “Jesus het vir jou gesterf en opgestaan en Hy kies jou as sy dissipel.”

Mag jy hierdie Paasfees saam met jou geliefdes beleef dat Goeie Vrydag ook vir jou goeie nuus is!

Paasfees Skattejag

Leave a Reply