Skip to main content

Kompliment-geskenke

  • Gee vir elkeen in die huis twee papiertjies en ’n skryfding. Skryf op die een papiertjie ‘n kompliment vir die een wat verjaar.  Skryf op die ander papiertjie ’n seënbede of teksvers wat jy as geskenk wil gee vir die een wat verjaar  (bv. Psalm 23  – ek hoop dat jy hierdie jaar die Here as ’n Herder sal ervaar).  Plak die notas oral op die een wat verjaar se lyf nadat julle dit vir hom/haar gelees het.

Piñata verrassing

  • Skryf mooi tekste op gekleurde papiertjies en maak ’n piñata daarvan. Kyk op die internet wat ‘n piñata is, as jul nie weet nie. Vul dit ook met lekkertjies, hang dit iewers op, blinddoek die een wat verjaar en laat hom/haar dit dan stukkend slaan en dan elke notatjie hardop lees. Bybelverse wat jy vir iemand anders as ’n ‘geskenk’ kan gee is bv. 29:11; Ps. 20:4; Ps. 27:4-7; Spreuke 9:11; Ps. 90:12; Ps. 16:11; Ps. 91:11

‘n Skoon begin vir ‘n nuwe jaar

  • As ’n verjaarsdag ’n tyd is vir geskenke, hoekom maak julle dit nie ook ’n tyd vir skoonmaak nie? Raak ontslae van die clutter in jou lewe en gee die dinge wat jy nie meer gebruik nie, maar wat nog waarde het, weg. Help kinders om speelgoed weg te gee waarmee hulle nie meer speel nie.  Seën iemand anders daarmee.

Geskenke vir ander

  • As jy ’n partytjie hou, vra jou gaste om in plaas van ’n geskenk vir jóú ’n bydrae te maak aan ’n liefdadigheidsorganisasie van jou keuse of iets saam te bring soos blikkieskos vir ‘n noodverligtingsprojek.

Verjaarsdagmaand diensbaarheid

  • Besluit saam as gesin om in elkeen se verjaarsdagmaand saam tyd af te staan om te gaan dien by ‘n nie-winsgewende organisasie van die verjaarsdagmaat se keuse bv. ’n dierebeskermingsvereniging of ’n rommel optel projek.

Kersies wat seën

  • In plaas daarvan om die getal kersies op die koek te sit wat jou ouderdom weergee, gee vir elkeen in die gesin ’n kersie om op die koek te sit. Wanneer elkeen dit doen, moet hulle daardie persoon seën met ‘n wens vir die jaar, byvoorbeeld, “ek wens jou ‘n wonderlike skooljaar toe.”

 

Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek “Ons huis vier” deur Anriëtte de Ridder en Maartje van der Westhuizen. Bestel dit gerus by:

Huisgeloof-reeks 2: Ons huis vier

Leave a Reply