Gespreksnotas tydens die Kategese VBO kursus van Januarie 2018.
Dissipelskap as ‘n hele gemeente fokus (Uitenhage-Noord Gemeente)
Ons is op ‘n hele pad in die gemeente oor dissipelskap.
Ons preek en doen reekse oor dissipelskap temas soos Luister ens.
Ons fokus in die gemeente om nuwe taal te ontwikkel sodat mense kan besef wat dissipelskap behels en dit meer alledaagse konsepte te maak.
Ons doen gereeld die reeks van Deon Loots oor dissipelskap.
Verhoudings is die belangrikste fokus vir ons – dit vorm die basis van alles.
Ons het 2 bane in die kategese – tieners kan vanaf graad 9 kies tussen die tradisionele baan van kategese en dan die toerusting baan wat die dissipelskap kursus deurloop.
Ons lei mentors op en die hoof fokus van mentorskap gesprekke is om jou persoonlike ontdekkings / belewenisse met iemand te deel en dit so jou eie te maak – ons sukkel nog met praktiese implementering van mentorskap as sisteem.
Fokus op die integrasie van temas – Piketberg Gemeente
Ons dink gereeld oor verskillende maniere waarop ons ons reekse en 40 dae programme se inhoud kan deurtrek na die kategese.
Ons gebruik die reekse in die gemeente en laat die kinders / tieners se materiaal verband hou daarmee.
Ons gee leidrade / vrae vir die ouers wat hulle help om met die kinders / tieners tuis oor die groter tema te praat.
Dissipelskap is ‘n lewenstyl – Robertson Gemeente
Die vraag vir ons is hoe kan ons dissipelskap ‘n leefwyse maak en nie net ‘n reeks nie –
Dit gaan vir ons oor die vorming gewoontes.
Alles begin met ‘n verhouding met Jesus – daarom het ons eers in die gemeente op hierdie basiese temas gefokus.
Daarna het ons begin om praktiese uitreik geleenthede te skep.
Ons “gooi mense in die diep kant in”, waar hulle uit hul “comfort zone” is, en ander moet bedien. Dit is daar wat hulle spontaan hulle roeping en gawes ontdek.
Ons doen dit ook met die kinders by die kategese – bv hulle maak en deel toebroodjies uit en daardie experience verander hulle.
Dan kom hulle (grootmense en kinders) terug na die gemeente en hulle is verander deur hierdie ervaring
Roeping eerder as gawes – Murrey Gemeente, De Doorns
Ons fokus eerder op “ontdek jou roeping” as “ontdek jou gawes”.
Dit behels dat ons ‘n langer pad stap met mense – ons stap ‘gewoonlik ‘n jaar lank met iemand ‘n pad van dissipelskap. Dit neem tyd, maar het langer termyn invloed en groter waarde.
Die ontdekking van jou gawes het wel waarde, maar dit help jou nog nie om betrokke te raak nie.Roepingbewustheid help iemand om te ontdek hoe hy/sy (met sy/haar gawes) ‘n verskil op die aarde kan maak.
Twee persone kan ‘n soortgelyke roeping hê maar dit anders benader (omdat hulle verskillende gawes ens het).
Struktuur vs spontane mentorskap
Die groep meen dat ‘n sisteem van mentorskap wat gestruktureerd is, mense kan help om te commit asook help dat mense meer gestruktureerd gesels en begelei word bv. ‘n vaste opleiding sessie/s vir mentors en dan bv. 6 weke van begeleiding gesprekke wat by die kerk plaasvind. Dit help ook met evaluering daarvan en ook vir beide die mentor en mentee om verantwoordelikheid te neem. Aan die anderkant kan ‘n vaste kursus / struktuur egter die idee skep dat dit nie ‘n lewenswyse is nie?
Geloofsoordrag vs geloofsvorming
Die groep is dit eens dat die aard van die gesprek is dat iemand in die gesels ontdek oor hoe God reeds in hulle lewe betrokke is. Nie lering of geloofsoordrag nie, maar eerder geloofsvorming waar mense saam ontdek en vier hoe God aan die werk is. daarom hoef ‘n mentor verhouding nie een rigting te wees nie, maar mense kan ook mekaar mentor (ook tieners).
Toerusting van kategete
Baie kategete woon nie die toerusting sessies by nie, maar wanneer hulle in mentor verhoudings is (met ‘n mentor of hul predikant) kan dit groter waarde hê. ‘n Voorbeeld is in Uitenhage gemeente waar die kategete van ‘n sekere ouderdomsgroep (bv graad 3 en 4 kategete) met die predikant bymekaar kom een maal ‘n kwartaal vir ‘n aand in die week, om die materiaal bespreek, maar waar hy ook in hulle lewens inbou.