5 wenke om jou kategese groep prakties lief te hê
Bob Sinclair se liedjie “The Love Generation” som die generasie waarmee ons vandag in die jeugbediening werk, baie goed op. Hulle is jongmense wat gekenmerk word deur hul soeke na antwoorde in ‘n gebroke wêreld. Hulle verstaan diversiteit, tegnologie, pluralisme, samewerking en ervaring soveel beter as ons…maar hul staan ook krities teenoor enige onegtheid, apatie of skynheiligheid. So hoe kan ons hierdie generasie bereik?
Op een van ons belydeniskampe was daar ‘n besondere moeilike en uitdagende jong seun waarmee een van die kleingroepleiers gewerk het. Op ‘n stadium terwyl hul gesels, sê die leier: “Maar besef jy nie ek gee om nie, daarom wil ek jou help?!”. Daarop antwoord die tiener toe ewe verbaas: “Ek het nie besef Oom gee om nie, ek dog Oom is net nice”.
Hierdie gesprek het my weereens laat besef dat jongmense van ons verwag om “nice” te wees (ons is after all in die kerk), maar “nice” is nie goed genoeg nie! Hulle soek egte verhoudings en ‘n godsbelewing wat sin maak!
Indien hul 1 Kor 13: 1-3 sou oorskryf, sou dit sekerlik iets lui soos:
Al praat jy die lingo en kyk jy die regte flieks
Al is jy hoe goed voorberei
En ken jy al die antwoorde van die les
Al kan jy hoeveel Bybelversies opsê
Sonder liefde is dit leeg.
Al gee jy jou geld weg, loop in plakkies
Al is jy hoe cool en smooth
En dra jy studs in al die regte plekke
Maar jy het geen liefde nie
Baat dit jou niks.
Die vraag is dus, hoe kan jy tieners se soeke na liefde en ‘n egte godsbelewing in die praktyk ‘n werklikheid maak?
Hier is ‘n paar wenke:
- Verhoudingsbou een tot een, sowel as in die groep. Die bietjie ekstra moeite wat jy maak wys dat jy regtig belangstel.
- Relevante musiek wat uitdrukking gee aan egte ervarings. Maak moeite om kinders / jongmense se musiek te leer ken en dit te gebruik.
- Geleenthede om ‘n praktiese verskil te maak aan die nood. Jongmense se geloof word gevorm waar hul blootstelling kry aan nood. Daarom is diensprojekte, uitreike en uitstappies so belangrik om blootstellling te kry.
- Persoonlike bediening en gebed aan en deur die jongmense. Gebed is ‘n manier van omgee, vir mekaar sorg, mekaar op te bou en mekaar se geloof te versterk.
- Gesprekke oor elkeen se roeping en ‘n droom vir die toekoms. Wat leef in elkeen se hart? Wat is hulle drome vir die kerk of hulle eie lewens? Skep geleenthede om dit met mekaar te deel.
Op die ou end kan ‘n mens baie hoopvolle dinge aanpak, baie geloofswoorde deel, maar die grootste hiervan is: “be the love generation”.
Luister hier na die liedjie.
Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).