Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Terug skool toe
Gebruik gekleurde harte en ’n speletjie om gesprek te ontlok.
Terug skool toe
Hierdie week gaan julle terug skool toe. Dalk sien jy uit om jou maats te sien? Daar is sommige wat dalk na ’n nuwe skool gaan of wat koshuis toe gaan. Dalk is jy ’n bietjie bekommerd of bang oor of dit vir jou lekker gaan wees.
God se liefde
God wil jou herinner dat Hy vir jou baie lief is en dat Hy ook saam met jou gaan. Hy sal jou ook help om lief te wees (om om te gee en ‘n goeie maat te wees) vir ander mense. Hy vul ons harte met liefde, sodat ons vriendelik kan wees en sy lig kan laat skyn.
Harte gesprek speletjie (hiervoor is daar ook ‘n PowerPoint beskikbaar)
Maak vooraf ’n rooi, oranje, geel, groen en blou hart en hang dit agter jou op. Vra vir elkeen wat na jou uitsending kyk om ’n kleur te kies (rooi, oranje, geel, groen of blou). Vertoon daarna op die skerm (of lees) die vraag wat by elke kleur pas. Elkeen moet die vraag beantwoord wat by die kleur pas wat hulle vooraf gekies het. Hulle vertel dan aan mekaar die antwoorde (in gesinsverband) deur die preekvideo te pause.
- Rooi hart – watter vriende sien jy uit om weer te sien?
- Oranje hart – hoe kan jy hierdie week ‘n vreemdeling laat welkom voel?
- Geel hart – vertel van iemand wat vriendelik was met jou die afgelope week?
- Groen hart – op watter manier kan jy liefde wys sonder woorde, net met dade?
- Blou hart – waaroor is jy bekommerd of bang vir 2021?
Bid
Bid vir kinders en tieners wat terugkeer skool (en koshuis) toe. Ook vir die wat vir die eerste keer skool toe gaan of hoërskool toe gaan, of leerlinge wat met ’n nuwe skool begin. Bid ook vir onderwysers en ouers wat dalk onseker is oor wat die jaar mag inhou.