10 wenke vir positiewe gebruik van tegnologie in die huis
As die woorde “tegnologie” en “jou kind” in dieselfde sin gebruik word, dink ons dadelik aan pornografie, aanlynboelies, internetverslawing ens. Vandag se tegnologie het egter beide positiewe en negatiewe aspekte.
Hier is 10 wenke vir positiewe gebruik:
- Volgens navorsing is ‘n vasgestelde slaappatroon baie belangrik. Spreek af op ‘n vasgestelde slaaptyd vir almal. Begin ‘n uur voor slaaptyd af te skakel en rustig te raak. Moenie met selfone langs die bed slaap of musiek in die ore nie – dit versteur slaappatrone en verhoed jou om in “diep slaap” in te gaan.
- Stel duidelike riglyne wanneer dit kom by tegnologiegebruik. Beperk selfoon, TV, internet en so meer tot ‘n sekere aantal ure per dag en hou daarby.
- Jou kind se selfbeeld is sensitief en word maklik beïnvloed. Gee komplimente, moedig sterkpunte aan en laat jou kind selfversekerd voel in sy/haar eie liggaam.
- Tegnologie kan kinders ontneem van die geleenthede om werklike verhoudings te bou, want dis makliker om ‘n WhatsApp te stuur. Moedig jou kind egter aan om self oor moeilike en ongemaklike situasies gesig-tot-gesig te praat en fisiese tyd saam met vriende (en julle as gesin) te spandeer.
- Raak deel van jou kind se tegnologiese wêreld sodat jy kan saam praat.
- Wees ‘n voorbeeld van gesonde en gebalanseerde tegnologiegebruik.
- Weerhou tegnologie van die kind se slaapkamer en hou dit sentraal in die huis. Stel wagwoorde en beperkings wat ouderdom gepas is.
- Weet wat die inhoud is van wat jou kind/tiener kyk of speel. Google saam die resensies daaroor en besluit vooraf (saam) wat gepas is. ‘n Handige webwerf is commonsense.com
- Leer jou kind waarvoor om “nee” te sê. Wanneer jy aktief betrokke is by tegnologie en self die gevare kan raaksien, sal dit makliker wees om dit vir jou kind uit te wys.
- Gesels openlik (ouderdomsgepas) oor die gevare van aanlynboelies, pornografie ensovoorts en maak dit duidelik dat jou kind altyd eerlik (sonder vrees vir veroordeling) kan gesels oor enige iets wat hy gekyk het of beleef het wat hom onseker, bang of skaam laat voel het.
Die basiese behoeftes van kinders, met of sonder tegnologie, bly dieselfde. Hulle soek struktuur, erkenning, aanvaarding en liefde. Hulle kan dit nou net makliker en vinniger by ander naam- en gesiglose mense kry, as by ouers en vriende.
“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Matteus 5: 14-16
Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).