Gary Chapman se boeke oor “The 5 Love Languages” help ons om te verstaan dat elke mens ‘n unieke “taal” het waarmee hy/sy liefde ontvang en graag gee. Die 5 tale wat hy identifiseer is:
- Woorde van bemoediging komplimente, waardering, vriendelikheid ens.
- Kwaliteit tyd tye van onverdeelde aandag, kwaliteit gesprekke en aktiwiteite
- Ontvang/gee van presente enige visuele simbole van liefde gekoop, gevind of gemaak
- Dade van diensbaarheid hulp of waardevolle dade, fokus op fisiese behoeftes
- Fisiese aanraking gebare, drukkies, lyftaal en gepaste aanraking
Dis somtyds makliker om by kinders hul liefdestaal te identifiseer. ’n Kind wat blom as jy ’n kompliment gee of maklik “ek is lief vir jou” sê, hou van opbouende woorde. ’n Kind wat elke dag saam met jou wil krieket speel op die gras of wil vertel hoe hulle dag was, blom as jy kwaliteit tyd met hulle spandeer. ’n Kind wat vir jou klippies of kaartjies aandra is visueel ingestel en sal klein geskenkies waardeer. ’n Kind wat graag wil help skoonmaak, dra aan iets of ’n koppie tee vir jou wil maak sal ook positief reageer op diensbare dade. En ’n kind wat op jou skoot sit of hou van stoei of kielie sal fisiese aanraking soos drukkies baie positief ervaar.
Vir nadenke of gesprek in julle gesin:
- Ouers – dink terug aan jou kinderdae – in watter mate het jy ervaar jou ouers het jou lief? Hoe het jou ouers hulle liefde aan jou uitgedruk? Hoe beïnvloed dit die manier waarop jy vandag jou omgee kommunikeer?
- Watter taal spreek jou die meeste aan? Watter taal het jy die nodigste? Lys dan die ander 4 in volgorde van belangrikheid.
- Kan jy jou lewensmaat en kinders se liefdestale identifiseer? Gesels saam daaroor – dis pret om elkeen se “taal” te ontdek!
- Hoe kan julle as gesin mekaar se “tale” aanleer en mekaar meer waardeer?
Lees gerus meer aanlyn of doen ‘n kort vraelys soos hierdie by: http://www.selectsmart.com/FREE/select.php?client=5lovelanguages
En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde! 1 Kor 13: 13
Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).