‘n Rukkie gelede, oppad na KIX by een van ons skole, kom ek af op ‘n huilende kind, een van ons KIX-ers. Sy wou nie sê wat haar so ongelukkig maak nie. Toe ek haar ma die aand bel, kom die storie uit. Sy word geboelie, al lankal al, deur ‘n graad 3 dogtertjie en haar twee trawante wat ‘n terreurveldtog op die skoolterrein voer. In dieselfde week vertel iemand my van ‘n seuntjie van die ander skool. Soggens het hy maagpyn of gooi selfs op. Hy is te bang om skool toe te gaan, want hy word geboelie.
Baie mense voel dit is maar deel van grootword dinge. Maar só eenvoudig is dit nie. Boelies is ‘n universele verskynsel wat in elke land, kultuur, ouderdomsgroep en geslag plaasvind. Dit is ‘n probleem wat vir almal hoofbrekens besorg, ook vir kinderwerkers. Kom ons bekyk die verskynsel van boelies ‘n slag van naderby. Kom ons help en bemagtig mekaar om sodoende kinders, ouers en onderwysers te help wat hiermee te doen het.
Wat is ‘n boelie?
Dit is iemand wat beheer wil verkry oor ‘n meer weerlose of kwesbare persoon óf oor sy vriendekring[1] deur fisiese of verbale aggressie [2]. Seuns en dogters kan boelies wees.[3] Navorsing het bevind dat die verskynsel van boelies, baie dikwels in skole voorkom.[4]
Wat is tipiese boelie gedrag?[5]
- Boelies is geneig om te boelie wanneer daar nie gesagsfigure naby is nie, byvoorbeeld op die speelgrond, in die kleedkamers of in die skool se gange.
- Boelies het gewoonlik een of twee trawante wat altyd saam met hulle is en hul help om ‘n kind te intimideer.
- ‘n Slagoffer kan geterg word, name genoem word, afgepers word of fisies seergemaak word.
- Boelies kan stories of leuens oor die slagoffer versprei.
- Boelies kan poog om almal teen die slagoffer te laat draai – om hom / haar ‘n uitgeworpene te maak.
- Boelies kan die slagoffer se besittings wegsteek, beskadig of afvat.
- Boelies kan slagoffers totaal ignoreer en ander sover kry om dieselfde te doen, die “silent treatment.”
- Boelies kan die slagoffer dreig dat sy vriende of familie ook ge”kry” sal word.
- Boelie gedrag doen nie net die slagoffer skade aan nie, maar ook aan die boelie self.[6]
Wat moet mens weet van boelies[7]
- Hulle hou daarvan om mense te verkleineer, skaam of seer te maak.
- Boelies het nie baie selfvertroue nie; daarom pik hulle op ander.
- Hulle is dikwels ongelukkige mense met probleme.
- Boelies voel beter oor hulleself as hulle ander kan laat sleg voel.
- Baie kenners is dit eens dat boelies boelie, omdat hulleself geboelie is, miskien tuis, elders of by die skool. (NB Maar selfs al word iemand geboelie, het hy / sy ‘n keuse. Hy hoef nie ‘n boelie te word nie!)
- Sommiges help die boelie om te boelie, om te verhoed dat hulleself geboelie word.
- Boelies werk dikwels in groepe, want dit help hulle om verskonings te hê wanneer hulle uitgevang word, bv. “…Ek het dit nie begin nie… Ek was net daar naby… Hy [die slagoffer] het dit begin en ek het net my vriend gehelp…”
- ONTHOU: ‘n Boelie kan alleenlik suksesvol wees indien niemand iets daaromtrent doen nie!
- Boelies se ouers neig om inkonsekwent dissipline toe te pas en dikwels is daar min warmte of liefde in sulke gesinne.[8]
- Gewoonlik is boelies nie model studente nie, presteer nie goed op skool nie en kom nie oor die weg met hul onderwysers nie.[9]
- Boelies is nie gewild onder hul portuurgroep nie.[10]
Hoe lyk die boelie se tipiese slagoffer?[11]
- ‘n Slagoffer kan enigiemand wees wat toevallig op die verkeerde tyd, op die verkeerde plek is.
- Mense wat op enige wyse dalk “anders” is.
- Enigiemand wat lyk asof hy / sy ‘n maklike teiken is (maklik om bang te maak).
- Iemand wat kleiner of jonger as die boelie is.
- Mense wat sensitief is, wat maklik huil of ontsteld word.
- Mense wat nie baie vriende het nie, byvoorbeeld nuwe kinders.
Wat is die gevolge vir die slagoffer?[12]
- Om geboelie te word is baie stresvol vir die slagoffer.
- Kinders mag ‘n teësin ontwikkel vir skool.
- Slagoffers begin alle lede van die portuurgroep wantrou en sukkel om vriende te maak.
- Ekstreme slagoffers kan depressie of ‘n fisiese siekte ontwikkel.
- Meeste slagoffers presteer goed op skool en is in staat om te begin vriende maak soos hulle ouer word.
- Meeste slagoffers (veral die wat deur volwassenes ondersteun word) oorleef die boelie ondervinding sonder langtermyn newe-effekte.
Hoe hanteer mens ‘n boelie?[13]
- Leer ‘n kind om ALTYD oplettend te wees en voortdurend op die uitkyk te wees vir ‘n moontlike boelie situasie.
- Vermy ‘n boelie situasie. Weet wanneer om weg te loop.
- Gebruik humor om ‘n boelie te ontlont. Maak ‘n grap wanneer ‘n boelie begin aanmerkings maak of begin om te terg. Daardeur kry die boelie nie die gewenste reaksie van die “slagoffer” nie. Laat die kind dit vooraf inoefen met rollespel. Gee vir die kind grappies / grappige sinsnedes wat hy / sy moontlik kan gebruik vir die boelie.
- Tree self-handhawend (assertive) op. Sê DUIDELIK vir die boelie om te skoert of “GAAN WEG!” en stap dan self weg van die situasie. Laat die kind dit vooraf oefen in die spieël en deur rollespel.
- Maak ‘n nuwe vriend(e).
- Bly voortdurend tussen ‘n groep kinders. Boelies pik op kinders wat alleen is.
- Soek vriendelike kinders se geselskap op en begin bou aan vriendskap met hulle.
- Kry hulp by ‘n volwassene. Moedig die kind aan om as hy geboelie word, te gaan praat met ‘n onderwyser, sy ouers of ander volwassenes.[14]
- Beskerm die kind se gevoelens teen “name-calling” deur hulle te leer om hulself te beskerm teen beledigings. Leer die kind dat om die boelie terug te beledig, die situasie net sal vererger.
- Om die krag en seermaak uit woorde weg te neem, kan die beledigende woorde hardop gesê word deur die kind. Laat die kind dan die woorde “weggooi”. ‘n Mens kan die kind laat oefen om die woorde in ‘n vullisblik te gooi. Laat die kind daarna iets positiefs oor homself sê wat hy weer kan inneem. Byvoorbeeld: “Niemand hou van jou nie.” Ek gooi die woorde weg en sê “Ek hou van my.”
- Leer die kind om nie dadelik tou op te gooi as ander kinders hom nie by ‘n speletjie insluit nie. Help die kind om vol te hou om te vra om saam te speel. (Laat die kind vooraf oefen om nie aggressief of kermend te klink as hy met hulle praat nie. Help hom om te oefen om positief en vriendelik te lyk. Oefen gesigsuitdrukkings in die spieël.)[15]
- As ‘n laaste uitweg, (volgens sommige kenners) leer die kind selfverdediging, vir geval hy fisies seergemaak gaan word en hy nie van die situasie kan ontsnap of hulp kan kry nie.
Wat kan skole doen om boelies stop te sit?[16]
- Moenie boelie gedrag ignoreer nie – spreek dit aan! ONTHOU: ‘n Boelie kan alleenlik suksesvol wees indien niemand iets daaromtrent doen nie!
- Gaan doen deeglike “huiswerk”. Stel akkuraat vas wat die omvang van die probleem is.
- Sorg dat volwassenes meer sigbaar is oral op die skoolterrein, maar veral die areas wat die boelie probleem voorkom, bv. kleedkamers, speelgrond, die nasorg lokale, gange, ens. Sorg vir beter toesighouding, veral tydens pouses.
- Maak dit teen die reëls om iemand anders te boelie. Wees konsekwent om alle boelie gedrag te dissiplineer.
- Praat ernstig met boelies. Laat hulle verstaan dat jy bewus is van wat hulle doen en dat jy dit nie gaan duld nie.
- Help die boelies om hulp te kry. Boelies is mense wat self probleme het.
[1] Carol E. Watkins, M.D. (Northern County Psychiatric Associates, Lutherville and Monkton, Baltimore County, Maryland) – Dealing with Bullies and how not to be one (www.ncpamd.com)
[2] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)
[3] Hara Estroff Marano – Big bad bully. Psychology Today Magazine, Sept / Oct 1995.
[4] Ibid.
[5] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)
[6] Carol E. Watkins, M.D. (Northern County Psychiatric Associates, Lutherville and Monkton, Baltimore County, Maryland) – Dealing with Bullies and how not to be one (www.ncpamd.com)
[7] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)
[8] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)
[9] Ibid.
[10] Ibid.
[11] Bullying – being unkind to others (Kids’ Health: Children, Youth and Women’s Health Service, South Australia, 8 April 2008.)
[12] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)
[13] Hara Estroff Marano – Big bad bully. Psychology Today Magazine, Sept / Oct 1995.
[14] Personal safety and self defense for children, teens and adults: Face bullying with confidence. KIDPOWER – webtuiste.
[15] Ibid.
[16] Laura DeHaan, Ph.D (Assistant Professor of Child Development, North Dakota State University) – Bullies, February 1997. (www.ag.ndsu.edu)