Skip to main content
Huisgeloof Argief

Spreuke 12:1-2

By June 14, 2024No Comments

Dag 6: Jesus is ons Raadsman (Spreuke 12: 1-2) 

Wysheid en Dwaasheid

Ons het hierdie week gesels oor die sterrekykers wat Jesus in Betlehem besoek het na Jesus se geboorte. Maar wie was hierdie sterrekykers? Die Grieks praat van magiërs of wyse mense. Hulle het van die ooste gekom, dalk uit die gebied wat ons vandag Iran sal noem. Hulle was die voorlopers tot moderne wetenskaplikes, wat alles om hulle bestudeer het, o.a. ook die sterre. In hulle bestudering van die sterre het hulle hierdie helder, onbekende ster gesien wat in die weste skyn. Hulle het geglo dié ster in die weste wil vir hulle iets sê, en het daarom navorsing gedoen en die ster gevolg. 

Ek wonder sommer wie sou in vandag se tyd die wyse manne of sterrekykers wees? Dit was nie Herodus nie, nie die godsdienstige leiers of die rykes nie. Dit was heel onverwagse mense, mense uit ‘n ander land. Maar ook mense wat die wêreld om hulle bestudeer het – dalk daardie dae se wetenskaplikes. Hulle het seker baie geweet, van die sterre en wiskunde, en wêreldgeskiedenis. Maar wysheid is om dan die regte besluite te neem en te weet hoe om jou kennis toe te pas. Ek dink ‘n mens kry slim mense wat nie noodwendig wys is nie. En wyse mense wat nie noodwendig die slimste mense is nie. Wat dink julle? 

Het jy geweet die boek spreuke in die Bybel is vol raad of wyshede?  

Kom ons lees saam uit Spreuke 12: 1-2a uit die Boodskap vertaling 

Leer uit jou foute

1 Wie die lesse van die lewe ernstig opneem, is slim. Wie uit sy foute leer, leer die kuns van die lewe ken. Wie na geen raad luister nie, is dom. 

2 Die Here hou baie van mense wat graag wil leer, van mense wat die regte dinge op die regte oomblik doen en sê. 

Gesels nou saam oor die volgende vrae. 

  1. Lees weer die teks – watter woord of woorde staan vir jou uit en hoekom? 
  2. Vertel van ‘n keer toe jy ‘n fout gemaak het en of jy daarna uit jou fout iets geleer het. 
  3. Volgens Spreuke is wysheid om ook op die regte tyd iets te doen of te sê. Kan jy dink aan ‘n voorbeeld van iemand wat op die verkeerde tyd iets gesê of gedoen het?

Kom ons bid saam. 

Vra die Here om vir julle wysheid te gee oor wanneer om te praat, wanneer om eers te luister of te wag en wanneer om eerder stil te bly. 

Doen nou een van die volgende saam.  

  • Julle kan julle Kersboom en Kersversierings wegpak, maar hou die ster wat julle gemaak het vir nog ‘n week of 3 iewers sigbaar in die huis om julle te herinner aan die wysheid van die wyse manne wat die Betlehem ster gevolg het tot by Jesus. En om jou te herinner dat Jesus jou Raadsman is en wat jou lei met sy wysheid. 
  • Tieners en ouers kan gerus ook die res van Spreuke 12 lees. 

Die Here seën jou, is by jou. Hy lei jou. Hy is die Raadsman wat vir jou wysheid gee. Amen 

Leave a Reply