’n Paar jaar gelede het ’n skoolvriendin se man het binne ’n kwessie van enkele dae van blakend gesond beweeg, na onophoudelike hoofpyn, na ’n diagnose van ’n gewas op sy brein, na intensiewe sorg in die hospitaal, na dood. Deur die tyd het ek, saam met ’n klomp ander vriende en familie met groot hoop en verwagting gebid dat God die jong man sal genees, sodat hy kon voortgaan om vir sy pragtige jong gesin te sorg.
Hoe swakker dit gegaan het, hoe meer het ek gebid, tot my gebede meer die kleur van kerm en neul aangeneem het. Na sy dood was ek vies vir God en gefrustreerd met die Bybel en woedend vir Christene. Ek was vies omdat God nie ek en my vriendin se gebede verhoor het, soos ons wou nie. Ek was gefrustreerd met die Bybel, want dit belowe die opstandingskrag van Jesus, dat ons kan vra wat ons wil in sy Naam en hy sal gee en selfs dat ons nog groter werke sou doen as Jesus, maar helaas – geeneen van daardie beloftes het hier gegeld nie. Ek was woedend vir Christene wat vooraf groot stellings soos “Spreek net lewe” gemaak het en na sy dood self doodstil was.
Ek is steeds bietjie vies vir God, want my vriendin is nou ’n weduwee met twee seuns, waarvan een nooit sy eie pa sal ken nie. Ek weet nie hoe lyk God se pad nou met haar nie, maar hy het weer vir my een ding oor my lewe saam met Hom in gebed, geloof en lewe kom wys.
In Lukas 11:1-11 vra die dissipels vir Jesus om hulle te leer bid, waarna hy vir hulle die Onse Vader leer, die gewilde soek, klop en vra uitspraak maak. Heel aan die einde sê hy egter die volgende:
“As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”
Ek het geleer dat ons enige iets in gebed vir God kan vra. Ek het uit Lukas 11 geleer dat in gebed, ons God se volle, onverdeelde aandag kry, deur sy Gees. Ek het geleer, dat God nie altyd vir ons gee wat ons wil hê nie, maar Hy gee homself. Ek het dus geleer dat om aanhoudend te bid, aanhoudend my geloof versterk deur die Heilige Gees se teenwoordigheid te verseker en dat ek uit sy teenwoordigheid kan leef met die troos dat niks, nie eers die dood, my van Hom kan skei nie.
*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se Vrydag Nuus verskyn.