Skip to main content

~Anriëtte de Ridder

Hier is ‘n paar idees vir wat ‘n mens as familie kan doen in tye van hartseer wanneer iemand sterf om afskeid te neem en oor verlies te gesels.

 

Onthou-kers

Steek ‘n kers aan wanneer iemand in die huis/groter familie of selfs vriende sterf. Deel ook mooi herinneringe van hierdie persoon met mekaar terwyl jul onthou dat God by julle en daardie persoon se naastes teenwoordig is.

Herinneringe fles

Skryf julle gunsteling herinnering, sê-goed en eienskappe van die persoon wat oorlede is / weggetrek het op klein papiertjies neer. Gooi dit in ‘n groot fles of houer. Lees dit wanneer julle na die persoon verlang.

Plant nuwe lewe

Plant ‘n plantjie of boom wat julle altyd aan ‘n persoon herinner wat oorlede is. Op só ‘n manier onthou ons dat God ons in swaar en hartseer tye herinner dat die lewe nie met die dood eindig nie, maar dat ons nuwe lewe by Hom juis dan begin. Dit herinner ons ook daaraan dat die persoon dalk nie meer op hierdie aarde is nie, maar dat hulle in ons harte en herinneringe wel nog bestaan.

Plakboek of uitstalling

Deel van genesing, is om te onthou. Maak ‘n plakboek met foto’s, of ‘n uitstalling wat jou herinner aan iemand wat jy mis. Julle kan die persoon se geliefkoosde kledingstuk en besittings soos ‘n bril, ‘n beursie of ‘n serpie ook uitstal. Gebruik ook foto’s van die persoon se lewe in die uitstallings asook handgeskrewe briefies en kaartjies. Laat kleiner kinders die persoon van oorlede is, teken en voeg dit ook by die uitstalling.

Herinneringsete

Nooi ‘n paar familielede of vriende vir ‘n herinneringsete. Maak die persoon wat oorlede is se geliefkoosde kos, versier die tafel en eet saam. Gesels saam aan tafel oor herinneringe van die persoon wat julle wil deel.

Maak ‘n foto-video

Maak ‘n video van selfoon foto’s van die persoon op ‘n foon of rekenaar. Daar is heelwat gratis apps wat hiermee kan help. Kies ‘n lied daarby wat julle herinner aan die persoon.

Speel-speel “vertel”

Klein kindertjies kan teken, klei speel of handpoppe gebruik om die storie van die persoon se dood aan iemand anders (byvoorbeeld hulle teddies) te “vertel”. Dit help hulle om die gebeure self te verwoord.

Telefoon

Gebruik ‘n speelgoed foon om ‘n denkbeeldige oproep te maak aan die persoon. Vra vir kinders die vraag: “Wat sou jy graag aan hom/haar wou sê as jy kon?”. Of skryf saam ‘n briefie vir die oorledene.

Hou mekaar vas

Dit is belangrik om mekaar drukkies te gee wanneer ons swaar kry. Gee mekaar drukkies, veral wanneer kleiner kinders moeilik of neulerig raak. Hou egter in gedagte dat elke persoon hartseer op verskillende maniere uitdruk en verlies verskillend verwerk.

Ek voel…

Maak ‘n plakkaat vir die huis met gesiggies met verskillende gesigsuitdrukkings (of emoji’s) op. Elkeen in die huis kan dan soggens, smiddae of saans kans kry om te wys hoe hulle voel en hoekom. Julle kan ook die emosies “merk” met wasgoedpennetjies waarop elkeen se naam geskryf is. Dit kan ook ‘n gesprek begin waar julle aan mekaar erken dat ‘n mens ook soms kwaad, hartseer of bang mag voel en dat hierdie emosies nie sleg of verkeerd is nie. ‘n Mens kan ook teenstrydige emosies beleef. En oor tyd kan emosies ook verander. Hanteer ook verwyte, woede of skuldgevoelens wat kinders mag hê teenoor die oorledene deur daaroor te gesels.

Doen dinge saam

In tye van swaarkry, is dit goed om dinge saam te doen. Daarmee herinner julle mekaar daaraan dat julle nie alleen is nie. Maak dalk saam kos, skryf iets saam, maak saam die huis aan die kant of gaan stap saam of pluk saam blomme.

Wees dankbaar

Dit is ook goed om dankie te sê vir die goeie dinge in swaar tye. Dalk kan julle briefies skryf of kaartjies maak vir mense wat julle bygestaan het in hierdie tyd.

 

Vir nog idees en gespreksriglyne vir gesinne om hoogtepunte en laagtepunte te vier, bestel gerus die boek “Ons huis vier – Families ontdek saam. 9 Geloofsmomente” deur Anriëtte de Ridder en Maartje van der Westhuizen by Bybelmedia:

Huisgeloof-reeks 2: Ons huis vier

Leave a Reply