Skip to main content
Huisgeloof Argief

Romeine 4:4-8

By June 19, 2024No Comments

Dag 4: Leef eenvoudiger

God gee gratis 

Het jy al hard gewerk vir iets wat jy baie graag wou he? Dalk het jy vir baie lank geld gespaar om vir jou iets te koop. Ek sou raai dat daardie ding vir jou nou baie kosbaar is en jy dit mooi oppas. Maar daar gebeur ‘n snaakse ding met ons wanneer ons so hard gewerk het of so duur betaal het vir iets. Ek onthou hoe ek, toe ek baie jonger was, ‘n sekere Lego stel wou he. Ek het baie hard gewerk en baie lank geld gespaar en uiteindelik kon ek die stel bekostig. Dit was so lekker en ek het so lekker gebou maar omdat ek so lank gespaar en hard gewerk het, wou ek nie he die stukkies moes deur mekaar raak met die res van my lego nie, ek wou nie he my jonger suster moes daarmee speel nie, netnou breek dit en ek wou nie he stukkies moes weg raak nie so ek het die stel net gebou en op ‘n rak gesit. Hierdie ding wat vir my so kosbaar was word toe iets wat maak dat ek met my sussie baklei en dit is word toe iets waarna ek net kyk en nooit mee speel nie.  

Ons leer in die Bybel dat die gawes en liefde en genade wat God ons gee, verniet is, en ek dink dit is verniet juis omdat, as ons hard sou werk daarvoor, want ons sou baie baie hard moes werk daarvoor, sou ons dit dalk gebruik om met mense te baklei en dalk net daarna kyk en dit nooit gebruik nie. Die liefde en genade en sorg wat ons van God kry is nie iets wat verdien of voor kan werk nie, God gee omdat God ons liefhet en ons wil help om ander lief te he met die mooi dinge wat God vir ons gee. 

Kom ons luister saam na Romeinge 4:4-8 waar ons hoor dat God ons vrymaak, sonder dat ons daarvoor hoef te werk: 

 As mense dinge moet doen sodat God hulle moet vryspreek, dan is dit dieselfde soos wanneer hulle werk en iemand betaal hulle daarvoor. Hulle kry die betaling omdat hulle gewerk het en nie omdat die man vir wie hulle werk, goed wil wees vir hulle nie. 5 Maar God spreek mense vry, nie omdat hulle dinge doen nie, maar omdat hulle glo. Hulle glo in Hom wat sondaars vryspreek. 6 Dawid sê ook dat party mense gelukkig is omdat God hulle vryspreek, nie omdat hulle die regte dinge doen nie. 7 Dawid skryf: 

*Mense doen verkeerde dinge, 

maar die Here vergewe hulle. 

Hulle doen sonde, maar die Here 

neem hulle sonde weg, 

daarom is hulle gelukkige mense. 

8 Hulle is gelukkige mense, 

want die Here het 

hulle sonde vergewe. 

Gesels nou saam oor die volgende vrae. . 

  1. Wat het jy al verniet gekry?  
  2. Waarvoor het jy al baie hard gewerk? 
  3. Kan ons goed wat ons verniet kry ook maklik sleg oppas  of sleg gebruik omdat dit dalk nie vir ons waarde het nie?  

Kom ons bid saam. 

Dankie Here dat ons nie hard hoef te werk vir U om ons lief te he nie. Help ons om te weet dat ons vryheid duur is, al het ons nie daarvoor betaal nie en help ons om dit te gebruik om vir ander mense te wys hoe lief U hulle het. 

Amen 

Doen nou die volgende saam. Hier is ‘n voorstel:  

Dalk is daar iets baie spesiaal in julle huis of jou lewe wat so kosbaar is dat dit nooit gebruik word nie. Haal dit uit en gebruik dit waarvoor dit gemaak is. 

Mag die Here by elkeen wees en bly. 

Leave a Reply