Skip to main content
Huisgeloof Argief

Romeine 4:1-4

By June 19, 2024No Comments

Dag 1: Leef eenvoudiger

Eenvoud deur geloof 

Ons lewe in ‘n wêreld wat van ons vra om die heeltyd besig te wees. Ons moet vroeg opstaan om te gaan werk of skool toe te gaan, as ons by die huis kom moet ons nog huiswerk doen, of dalk moet jou ouers nog werk doen. Ons het sport oefening en as jy raakgesien wil word of meer geld wil maak moet jy harder werk, vinniger beweeg, meer tyd aan oefening of voorbereiding spandeer.  

Baie keer dink ons ook so oor ons geloof, dat ons hard moet werk en ‘n klomp goed moet doen om God se aandag te trek. Ons gaan hierdie week oor geloof gesels – hoe geloof ons help om eenvoudiger te leef, want dit help ons om te weet wat eintlik belangrik is en wat God van ons verwag. In die brief, Romeine, wat ons in die Bybel kry, word daar na Abraham, wie se storie in die Ou Testament is, gepraat en dalk kan sy lewe ons ook hierdie week help om deur ons geloof eenvoudiger te leef. 

Kom ons lees saam uit Romeine 4:1-4 (Bybel vir almal) 

Wat het gebeur met Abraham, die *voorvader van die Jode? 2 As die dinge tussen Abraham en God reg was omdat Abraham die regte dinge gedoen het, dan kon Abraham trots wees op homself wanneer hy by mense is, maar nie wanneer hy voor God staan nie. 3 Want in die Ou Testament is geskryf: 

Abraham het God geglo, 

en God het hom vrygespreek 

van sy sonde. 

4  As mense dinge moet doen sodat God hulle moet vryspreek, dan is dit dieselfde soos wanneer hulle werk en iemand betaal hulle daarvoor. Hulle kry die betaling omdat hulle gewerk het en nie omdat die man vir wie hulle werk, goed wil wees vir hulle nie. 

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. Wat kan jy van Abraham se verhaal onthou? 
  2. Dink jy dit is soms vir ons belangriker om trots te wees voor mense as voor God? Wat is die verskil? 

Kom ons bid saam.

Dankie Here, dat ek nie ‘n klomp goed hoef te doen of reg te kry vir U om op my trots te wees nie. Dankie dat U my liefhet net omdat ek u kind is – ek is genoeg en U het my lief.

Amen 

Mag die Here by elkeen wees en bly. 

Leave a Reply