Skip to main content
Huisgeloof Argief

Romeine 12:4-8

By June 18, 2024No Comments

Dag 3: Julle is soos… ‘n liggaam

Sê nou maar net jy word een oggend wakker en jou liggaam wil nie werk soos gewoonlik nie. Dit is skemer en jy kan nie lekker sien nie. Jy sit regop in die bed en gooi die duvet van jou af, en skielik kan jy sien, maar jy kyk vas in jou skooltas, die kasdeur se handvatsel en jou stoel se sitplek. Jou oë sit skielik waar jou kniekoppe moet wees, jou neus teen jou linkerwang en jou ore is nie meer langs jou kop nie,maar een op jou heup en een op jou linker enkel! Wat ‘n nagmerrie!! Selfs al wil ‘n mens partydae ‘n bietjie van jou liggaamsdele anders hê as wat dit lyk, is hierdie darem net heeltemal belaglik! Elke liggaamsdeel is op die regte plek en werk saam sodat jou hele liggaam reg kan funksioneer. Dink bv aan wat jou liggaam doen as jy langs die krieketveld sit en skielik sien jy hoe ‘n “6” hou reg op jou kop afpyl?? Jou stembande gaan skree of skerp asem intrek, jou oë gaan toeknyp, jou rug en bene gaan na mekaar toe styftrek soos ‘n skilpad in sy dop kruip, en jou arms en hande gaan keer dat jou gesig nie seerkry nie! Elke deel het ‘n werk!

Ons lees in die Bybel dat ons ook is soos ‘n liggaam. Kom ons lees hoe verduidelik Paulus dit in Romeine.

Kom ons luister saam na Romeine 12:4-8 uit die Bybel@kinders:

Onthou, ons almal is Jesus se liggaam hier op aarde. Net soos verskillende dele van ons lyf elkeen ‘n eie werk het om te doen, het ons as Christene ook verskillende werke om te doen. Om ons te help om dit goed te doen, gee God vir ons elkeen spesiale hemelse persente. Ons het nie almal dieselfde geskenke gekry nie. God besluit self watter geskenke ons moet hê. Hy wil hê dat ons hierdie geskenke reg moet gebruik.

As dit jou hemelse geskenk is om oor God te praat, doen net dit. Moenie oor jouself praat nie. As dit jou hemelse present is om goeie dinge vir ander mense te doen, doen dit so goed jy kan. As jy ander mense oor God moet leer, doen net dit. As jy mense moet troos wat swaarkry, doen dit. As jou hemelse present is om ‘n leier in die kerk te wees, doen dit met vreugde. Help ander mense sonder ‘n lang gesig.

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. · Hoe sou julle vir mekaar verduidelik is ons as christene soos ‘n liggaam?
  2. · Hoekom dink julle het almal nie net dieselfde hemelse presente gekry nie?
  3. · Wat dink jy is jou spesiale geskenk wat jy moet gebruik?

Kom ons bid saam.

Liewe Here, help my om my hemelse geskenk uit te leef as deel van die liggaam van die kerk.

Amen

Doen nou die volgende saam. Hier is ‘n voorstel vir families:

Bemoedig en versterk mekaar met die volgende oefening: Gee vir elkeen kans om 1 ding van elkeen in die huis te noem of neer te skryf, wat spesiaal en anders is as die res van julle. Dit kan wees dat een persoon altyd bid, of eerste raaksien as iemand swaarkry, of nie skaam is om van Jesus te vertel nie. Eindig af deur vir elkeen te sê: Ons is soos ‘n liggaam, en jou spesiale geestelike geskenk wat God aan jou gegee het, maak hierdie liggaam besonders.

Mag die Here Jesus wat jou deelmaak van sy liggaam, by jou wees en bly.

Leave a Reply