Skip to main content
Eerste roetemerkers van die jaar

Die nuwe jaar is om die draai en sekere lidmate gaan aan die begin van 2020 oorgange maak. Begin solank dink… Hoe gaan julle dit as gemeente vier? Hoe gaan julle daardie lidmate deur hulle oorgang begelei?  Stellastraat Gemeente in Pretoria vertel op hulle webtuiste wat hulle doen om die begin van kinders se laerskool- of hoërskoolloopbaan met ‘n roetemerker te vier:

“’n “Oorstaptyd” is nie lekker nie, maar dit is goed vir ons. Om los te maak van dit wat bekend is en om vas te maak aan die onbekende, maak ons onseker en laat ons onveilig voel. Dit is dan dat ons soek na dit wat ons dra, dit wat ons vashou en dit wat ons veilig laat voel. Die gemeente wil help om van hierdie oorgange ‘n roetemerker te maak. ‘n Roetemerker is ‘n simbool wat jou help met oriëntasie (waar kom ek vandaan, waar is ek en waar gaan ek heen?); met identifikasie (wie is ek en Wie s’n is ek?) en met konfirmasie (wat bely ek?).

Om vir die 1ste keer skool toe te gaan en om van skool te verwissel, bly ‘n groot “oorstaptyd”. Daarom wil Stellastraat vir die Gr. 1’s en die Gr. 8’s iets gee om hulle te herinner dat God saam met hulle reis. Vir die Gr. 1’s gee ons ‘n reissak met die woorde “Leer van Jesus” en vir die Gr. 8’s ‘n voetspoor met die woorde “Volg Jesus”. Ons wil graag hê dat die ouers vir die kinders die geskenke namens die gemeente sal gee. Die Gr. 1’s kry hulle roetemerker tydens die 10:00 diens en die Gr. 8’s tydens die 18:00 diens.”

Met dank aan Stellastraat Gemeente (http://stellastraat.co.za/eerste-roetemerkers-van-die-jaar/)