Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Roetemerker (begin van die skooljaar)
Die skole begin hierdie week (of het begin) en ons is tans in die kerkjaar seisoen van Epifanie. Dit is dus ‘n ideale geleentheid om die roetemerker (oorgang) van die begin van ‘n nuwe jaar / skooljaar te vier.
Vier die roetemerker (begin van die skooljaar)
Hierdie week gaan julle terug skool toe. Dalk sien jy uit om jou maats te sien? Daar is sommige wat dalk na ‘n nuwe skool gaan of wat koshuis toe gaan. Dalk is jy ‘n bietjie bekommerd of bang oor of dit vir jou lekker gaan wees. Daar is dalk van die ouer mense hier wat ook ‘n lewensoorgang deurmaak – soos ‘n nuwe werk, of dalk het jy verhuis?
Hierdie is die tyd in die kerkjaar (Epifanie) waar ons dink aan Jesus se menswording – Hy het die brug oorgesteek na ons wêreld om mens te word en tussen ons te kom woon. Hiermee herinner Hy ons ook dat Hy ons lewensreis en tye van verandering ken en verstaan. Hy is ook saam met ons op ons lewensreis en verstaan dus ook ons ervarings en emosies in tye van verandering.
Roetemerker simbool
Hier word die geleentheid geskep vir mense wat ‘n oorgang in hulle lewe deurmaak, of ‘n nuwe lewensfase betree, om dit liturgies te vier saam met die gemeente. Hier is 2 voorstelle:
- Gee vir elke skoolgaande kind ‘n sleutelhouer (gelamineerde kaartjie met ‘n ringetjie) wat hulle kan vasmaak aan hulle skooltas (of ten minste die graad 1’s en graad 8’s). Jy sou selfs kon reël dat die kinders hulle tasse hiervoor saambring kerk toe. (Daar is goeie idees aanlyn onder “blessing of the backpack”.)
- Laat elkeen wat hierdie jaar ‘n nuwe fase betree, ‘n kers (tee liggie) aansteek om hulle te herinner dat Jesus altyd by ons is, dat Hy die lig op ons pad is en ons sal lei met sy Gees hierdie jaar.
- Laat almal mekaar seën met die woorde – Jesus is die lig op jou pad, laat jou lig ook skyn (Matt 5:14)
Gesels: Wat beteken dit vir jou dat Jesus die lig op jou pad is?
Gebed uit die Vroeë Kerk
Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.
Die Here is onder jou om jou dra as jy mag val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seën.
Die Here is binne jou om jou te lei met sy Heilige Gees.
Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou.
Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.
Amen.
Nog idees:
https://vanessamyers.org/back-to-school-blessing-kit/
https://www.umcdiscipleship.org/resources/a-blessing-of-the-backpacks-and-the-school-year
https://www.saltproject.org/progressive-christian-blog/2015/8/4/backpack-blessing