Skip to main content
Huisgeloof Argief

Psalm 1

By June 18, 2024No Comments

Dag 5: Julle is soos… ‘n boom 

By my broer in die Karoo staan ‘n pragtige ry bome.  Hulle was daar toe hy daar ingetrek het, maar vir 3 jaar het niemand van ons geweet watse tipe boom dit is nie.  My broer dink toe by homself, die arme bome kry nie genoeg water nie – en hy begin besproeiing aanlê tot by die bome, en hy snoei die droë takke uit.  Na ‘n jaar toe ons een dag onder die bome staan en opkyk sien ons dit. . . . olywe. . . hordes en hordes olywe!  Dit was al die tyd ‘n ry wilde olyfbome, maar hulle was nie goed versorg nie en daarom kon ons nooit die vruggies sien nie!   

Koning Dawid die digter het gesê goeie mense wat God volg, is soos ‘n boom wat by water geplant is en vrugte gee.     

Kom ons luister saam na Psalm 1 uit Die Bybel vir Almal 

 1 Dit gaan goed met ‘n mens 

wat nie luister na mense wat verkeerd doen nie, 

wat nie doen wat sondaars doen nie, 

en wat nie saam spot wanneer mense sit en spot nie. 

2 Dit gaan goed met ‘n mens wat lief is 

vir wat die Here sê, 

‘n mens wat elke dag en nag dink aan wat die Here sê. 

3 So ‘n mens sal wees soos ‘n boom 

wat langs ‘n waterstroom groei, 

‘n boom wat vrugte dra op die regte tyd, 

en wat blare het wat altyd groen is. 

Dit gaan goed met alles wat hy doen. 

4 Maar dit gaan nie so met mense 

wat verkeerd doen nie. 

Mense wat verkeerd doen, is soos kaf, 

die wind waai hulle weg. 

5 Daarom sal die mense wat verkeerd doen, 

die sondaars, 

nie kan kom by die Here, 

die Regter, nie, 

daar waar mense wat reg doen, bymekaar is. 

6 Ja, die Here gaan saam 

op die pad van die mense wat reg doen, 

maar die pad van die mense wat verkeerd doen, 

bring hulle by die dood. 

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. Hoe lyk mense se lewens wat soos die boom by die waterstroom is? 
  2. Wat word vertel van mense wat verkeerd doen?  
  3. Wat kan jy doen om elke soos hierdie boom te wees? 

Kom ons bid saam. 

Here, help my om soos ‘n boom standvastig te wees vir U. 

Amen  

Doen nou die volgende saam. Hier is 3 voorstelle.  

  • Die eerste voorstel is vir families: Gaan stap ‘n entjie of maak ‘n afspraak om oor die naweek te gaan stap waar daar groot bome is.  Gaan sit of lê onder die boom.  Kyk wat julle alles raaksien van die boom.  Maak dit ‘n skaduwee?  Is daar voëls of ‘n voëlnes in die boom?  Hoe diep dink julle is die boom se wortels, kan jy die blare hoor ritsel as die wind daardeur waai?  Is daar sade of peule?  Hoe belangrik is hierdie boom vir die omgewing waar hy geplant is? 
  • Die tweede voorstel is vir tieners: ons lees op verskeie ander plekke in die Bybel dat Jesus vir ons lewende water gee en dat water ‘n simbool is van God se krag en sorg.  Hoe sou jou lewe as ‘n “boom” hierdie water kry en daarvan leef? 
  • Die derde voorstel is vir kinders: Teken ‘n boom en sit die prentjie neer in die huis waar almal dit kan sien en herinner kan word daaraan dat ons soos gesonde bome leef wanneer ons doen wat God vra.   

Mag die Here Jesus wat jou roep om soos ‘n boom te wees, by jou wees en bly.   

Leave a Reply