Slangetjies en leertjies

Speel as gesin ‘Slangetjies en Leertjies’. Elke keer as jy deur ‘n slang ingesluk word, noem jy iets wat in jou dag/week nie lekker was nie. Elke keer as jy op die leertjie land en boontoe klim, noem jy iets positief of lekker van jou dag. Deur hierdie oefening leer ons as gesin om God in elke dag raak te sien.

DinkJeug Familie App

Laai die Dinkjeug Familie App (toep) gratis af en gebruik dit om daagliks 5-10 minute te maak om met mekaar saam te gesels oor ‘n teks en tema. Die app gee daagliks ‘n oordenking, sowel as gespreksvrae, ‘n gebedswenk en doen idees.

Laai die app hier af:
Apple iStore
Google Play

Soet en suur

Hou ‘n houertjie met soet en suur lekkertjies aan. Almal steek hulle hande in en haal ‘n lekkertjie uit. As jy ‘n soet lekkertjie het, vertel jy iets mooi wat in jou dag gebeur het. As jy ‘n suur lekkertjie uitgehaal het, deel jy iets sleg van jou dag.

Fliek tyd

Kyk ‘n fliek as gesin saam en gesels na die tyd oor wat julle daaruit geleer het. Kry resensies van ouers vir gepaste flieks sowel as vrae waaroor families saam kan gesels onder “review – movies” by www.commonsensemedia.org

Verkeerslig speletjie

Speel die speletjie as julle saam in die motor ry, in die natuur stap of aan die tafel sit.

Rooi = stop en waardeer die natuur of geleentheid

Oranje = dink oor wat die ervaring aan jou doen

Groen = vertel hoe dit jou aan God laat dink

Laai die “Ons glo” toep af

Laai die gratis toep “onsglo” af of besoek die webwerf www.onsglo.co.za
Hierdie toep is ontwikkel vir gebruik deur gesinne / kleingroepe om geloofstemas saam te ontdek.

Herken die seisoene

Kyk hoeveel tekens van die seisoen (somer, herfs, winter, lente) julle kan raaksien as jul saam gaan stap of ry bv. in die somer: ‘n hoed, ‘n sproeier, ‘n roomyskarretjie, ‘n groen boom. Gesels oor God wat seisoene gee.

Musiek aand

Laat elke gesinslid ‘n lied, waarvan hul baie hou, kies (geestelike lied of sekulêr). Luister saam daarna en google die woorde. Gesels oor die betekenis. Gesels oor hoe God betrokke is by mense se ervarings van die lewe.

Leave a Reply

en_ZAEnglish