Annelet Slazus gesels vandag oor: Wat is die “boo-haai” oor Halloween?
Is daar tans ‘n gesprek oor Halloween tussen ouers en kinders/tieners in jou gemeenskap?
Vind hier agtergrond inligting, gesprekspunte en wenke vir alternatiewe.
Let wel, dit is ‘n langer podcast as gewoonlik.
Luister hier na die podcast:
Net ‘n vinnige vrywaring voor ons wegspring: alhoewel hierdie podcast nie ‘n opinie stuk is nie, maar eerder gaan fokus op feite deurgee wat jou aan die dink sit, kom enige bron van inligting met stukkies persoonlike interpretasies. Hiermee wil ek sê dat jou persoonlike gedagtes rondom Halloween deel moet wees van jou geloofsoortuiging (nes baie gelowiges vanuit ‘n geloofsoortuiging bv. nie Kersfees vier nie), maar voor jy te vinnig tot ‘n gevolgtrekking kom oor Halloween – dink daaroor, doen jou navorsing, en gesels met God daaroor.
Dit begin al hoe meer algemeen raak dat Halloween volwaardig in Suid-Afrika gevier word -ten spyte van die feit dat ons nie werklik bande met dié fees het nie. Die waarskynlike rede hiervoor is sekerlik die sosiale media invloed wat Halloween so pret laat lyk, en natuurlik winkels wat inkoop op die prettige versierings en opwinding skep.
Dit lyk vir my daar is ‘n groep Christene wat iets sê in die trant van: “Dit is ‘n bose vakansie. As jou kinders lekkergoed eet of kostuums dra, sondig jy.” En ‘n ander groep Christene sê: “Dis goed. Dis net kinders wat pret het. Moenie dit so ernstig opneem nie.”
So, wat is die “boo-haai” oor Halloween, en hoe tree ek met my kind of tiener in gesprek oor hoekom ons as huis Halloween vier of nie?
Hier is 5 gesprekspunte om mee te begin.
- Waar kom Halloween vandaan?
Die fees kom uit die Keltiese tradisie (meestal inwoners van Ierland, die Verenigde Koninkryk en die noorde van Frankryk), ongeveer 2000 jaar terug waar die vooraand van die Keltiese nuwe jaar op 31 Oktober was. Op hierdie aand was die Samhain fees gehou waar die einde van somer en oestyd gevier was, en die begin van die donker, koue winter te wagte was. Die mense het geglo dat op hierdie aand daar bose geeste sou kom wat hulle gewasse sou vernietig en hul laaste hulpbronne vir die winter sou steel. Die mense sou gevolglik groot vure maak, en self soos aaklige monsters aantrek om die geeste weg te skrik, en daarmee saam lekker kos aan hierdie geeste offer, sodat hulle stapelvoedsel uitgelos word.
In die jaar 609 het Pous Bonifatius IV besluit om ‘n fees te begin om die Christelike martelaars te vier en hierdie fees was later uitgebrei deur Pous Gregory III om ook alle heiliges (saints) in te sluit en die fees is geskuif vanaf 13 Mei na 1 November.
Teen die 10de eeu het Christenskap al so versprei na die Keltiese lande en “All Saints Day” was die algemene viering op 2 November – ‘n dag om die dooies te eer. Sommiges is van mening dat hierdie ‘n poging was om die vieringe ‘n kerklike vakansiedag te maak. Hierdie fees was soortgelyk aan Samhain gevier, met groot vreugdevure, optogte en die aantrek van kostuums as heiliges, engele en duiwels.
‘n Ander woord vir “All Saints Day” was All-Hallows Eve, en het later Halloween geword.
In die tweede helfte van die 19de eeu is Amerika oorstroom met nuwe immigrante. Hierdie nuwe immigrante, veral die miljoene Iere wat uit die Ierse Aartappelhongersnood gevlug het, het gehelp om die viering van Halloween in Amerika gewild te maak.
Met die leen van Europese tradisies, het Amerikaners begin om kostuums aan te trek en huis tot huis te gaan vra vir kos of geld, ‘n praktyk wat uiteindelik vandag se “trick-or-treat”-tradisie geword het.
- Wat sê die Bybel oor Halloween?
Die Bybel praat nie van Halloween, of Allerheiligeaand, nie, want dit het nie bestaan in die tyd en dele waar die Bybel geskryf was.
Die keuse om nie Halloween te vier nie, kom dikwels uit ‘n begeerte om nie deel te neem aan temas wat duisternis, dood en vrees verheerlik nie – elemente wat dikwels met hierdie vakansie geassosieer word. In sy kern het Halloween historiese wortels in heidense praktyke, met verbande met heksery, geeste en dood, wat sommige Christene voel in stryd is met die leerstellings van Christus, wat reeds die dood oorwin het en lewe en hoop bied.
- Hoe het Halloween geskuif van die oorspronklike fees na die populêre fees van vandag?
In die laat 1800’s was daar ‘n skuif in Amerika om Halloween in ‘n vakansie te verander wat meer gaan oor gemeenskap en bure-byeenkomste as oor spoke, poetse en heksery. Aan die begin van die eeu het Halloween-partytjies vir beide kinders en volwassenes die mees algemene manier geword om die dag te vier. Partytjies het gefokus op speletjies, kos van die seisoen en feeskostuums. Hierdie is die vieringe wat ook oorgespoel het na Suid-Afrika.
Alhoewel mens nie die wortels van die fees moet ignoreer nie, kan daar ‘n duidelike onderskeid gemaak word oor hoe die fees tans gevier word en destyds gevier was.
Hierdie aspek is waarskynlik die onderwerp waaroor jy die meeste sal moet nadink as jy ‘n besluit wil maak oor Halloween.
- Wat beteken die verskillende elemente van Halloween?
Trick or Treat: Om die geeste tevrede te hou, het die mense van destyds kos en allerhande lekkernye vir hulle uitgesit sodat hulle nie versteur word deur onwelkome geeste nie. Indien hulle nie ietsie lekker uitgesit het nie, was ‘n trick oor die huis uitgespreek. Vandag word hierdie as ‘n lekker rympie gebruik en selfs omgedraai dat die persoon wat vra, ‘n trick of treat kan verwag. Halloween kan gevier word, sonder om hierdie frase te gebruik.
Kostuums: Hierdie praktyk kan teruggevoer word na die mense wat hulself vermom het om soos die bose geeste te lyk, en nie deur hulle geteister kon word nie of om hierdie geeste af te skrik. Die skuif het gekom dat mense tans baie eerder as hulle gunsteling karakter wil aantrek as ‘n vreemde ou gees.
Jack-‘o’-lantern: Hieroor is daar uiteenlopende verklarings. Soos wat die Kelte op hierdie nag rondbeweeg het, sou hulle waarskynlik met ’n uitgeholde raap met ’n kers aan die binnekant rondbeweeg het. ’n Gesig is op die raap uitgekerf. Daar is beweringe dat hierdie gesig die ‘gees’ waarop vertrou word, voorstel. Later, in Amerika, is die raap met pampoene vervang. Interessant genoeg is die uitdrukking: ‘Skrik nie vir ’n koue pampoen nie’, afkomstig van hierdie gebruik.
- Wat is alternatiewe tot Halloween?
Baie glo om ‘n dag te vier wat rondom vrees en die bonatuurlike gesentreer is, nie versoenbaar is met die waardes van ‘n geloof wat vrede, liefde en die oorwinning van duisternis met die lig van Christus beklemtoon nie.
Maar tog lyk die lekkers eet, speletjies speel, versier en aantrek so lekker. So wat kan julle as gemeente/huis doen om so ‘n spasie te skep vir julle jongmense?
- Hou ‘n Liggies-fees, met speletjies, versierings en nie-bangmaak kostuums.
- Trunk or Treat: Hou ‘n fondsinsameling by die kerk met ‘n car-boot (trunk)
- Gaan uit na die gemeenskap: Hou ‘n kostuum-maak geleentheid by julle plaaslike tehuis of kindersorg huis, waar kostuums uit koerantpapier gemaak kan word, en kuier na die tyd lekker saam.
As gelowiges weet ons dat ons nie wêreldse tradisies kan vermy nie, selfs al draai ons ons kinders toe in watte. Kom ons pas dan eerder dinge aan, en skep ruimtes waar ons jongmense op ‘n gesonde manier kan deelneem aan dinge wat vir hulle opwindend lyk.