Christi Thirion gesels vandag oor moontlike groepleiers.
Luister hier na die podcast:
Ek wil jou nooi om vir ʼn oomblik in my einde-van-die-jaar skoene te kom staan. Vroeg in die vierde kwartaal het een van die groepleiers in ons groepleier byeenkoms die ongewenste stelling gemaak: “Ek gaan ongelukkig nie volgende jaar aangaan met my groep nie.” Dit is juis ook een van ons jeugbediening se knapste groepleiers. En die oomblik toe hy dit sê, verklaar twee ander presies dieselfde. Al drie hierdie leiers tree weg omdat hulle oor die somervakansie verhuis en ek is seker dat die meeste van julle wat luister, ook hierdie belewenis nou het.
Die einde van die jaar is gewoonlik die seisoen wanneer groepleiers terugstaan en dan moet ons begin dink oor waar om iemand anders te gaan werf. Kom ons dink oor ʼn paar plekke waar ons vir moontlike groepleiers kan gaan soek.
Die eerste plek is onder die ouers. Ouers is om baie teologiese redes ʼn belangrike poel om groepleiers te werf. Ouers het ʼn baie hoë belang by hul kinders se groepe, omdat hulle gewoonlik hul kinders na die jeugbediening en kategese bring, eerstens omdat ouers baie lief is vir Jesus en baie graag wil hê hulle kinders moet vir Jesus leer ken binne hul kinders se portuurgroep en op ʼn manier wat gepas vir hul lewensfase is. In die gereformeerde tradisie doop ons ook ons kinders as babas en maak by die geleentheid die belofte dat ons ons kinders sal onderrig en laat onderrig om vir God, God se beloftes en die inhoud van ons geloofskennis te ken en integreer in ons kinders se lewens. Dit motiveer ʼn ouer om aan te meld as groepleier.
Een mite wat ouers gewoonlik gebruik as ʼn verskoning, is dat hul kinders nie daarvan hou om hul ouers by die jeugbediening en kategese te hê nie. Die kinders mag dalk uiterlik so voorkom, deur ʼn oogrol of diep sug of selfs meer blatante afkeur uit te spreek, maar meestal het die tiener self waardering daarvoor. Dis ʼn manier hoe die ouer wys dat hulle moeite doen om in hul kinders se leefwêreld in te klim. Die bietjie rebellie tydens die tiener lewensfase is ook baie kere ʼn manier hoe tieners hulle ouers toets om te sien hoe belangrik die verhouding of grootword-waardes is. ʼn Ouer wat dan nader tree as groepleier, bevestig juis die belangrikheid van hul verhouding met hul kind asook die belangrikheid van geloof en die kerk, met jeugbediening en kategese as uitdrukking daarvan.
Die volgende plek is matrieks en studente, veral die wat pas belydenis van geloof afgelê het. Die belydenis van geloof roetemerker is gewoonlik ʼn tyd wanneer die jongmense vatbaar is om verantwoordelikheid in die gemeente op te neem. Dit is waar dat sommige van hierdie jongmense nie noodwendig baie lewenservaring het nie en dalk selfs in hul Bybelkennis taamlike gate het. Ons moet egter Paulus se woorde in Fil. 2:13 onthou dat dit “…God (is) wat julle gewillig en bekwaam maak…”
Een van die tieners in ons groepe se grootste behoeftes, is leiers wat eg en eerlik is, meer as iemand wat al die antwoorde het. So, kom ons maak gewillige ouer tieners bekwaam om te kan deel in God se bediening aan jonger tieners.
Die derde plek is NIE in die kerk se afkondigings NIE. Vir take soos hierdie is die afkondigings nie altyd die beste kanaal nie. Dit help met bewusmaking, maar ek hoef julle seker nie te vertel dat reaksie gewoonlik maar min is nie. Die beste manier is om met mense persoonlik te praat. Nooi al die ouers om die eerste byeenkoms by te woon. Stel dan die bestaande span groepleiers voor en gee selfs vir een of twee die geleentheid om te vertel hoekom hulle groepleiers is. Lig dan die groepe uit waar leemtes is. Jy kan dan by daardie byeenkoms die groep se ouers in die oë kyk en vra vir iemand om ʼn leier te wees of dat die groep dan mense nomineer met wie jy kan gesels.
Mag hierdie podcast jou inspireer om aan te hou dink en droom oor geloofsvorming. En mag jy onthou dat God jou sal lei deur sy Gees.