Driaan Pretorius gesels vandag oor hoe jy Vrouedag saam met jou kleingroep kan vier.
Spreuke 31 vers 25 en 26 lees: “Alles aan haar spreek van ‘n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie. As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde.”
Die Nuwe Lewende Vertaling stel dit as volg: “Sy het innerlike krag en waardigheid. Sy is nie bekommerd oor die toekoms nie. Sy praat met wysheid, sy gee raad saam met liefde. Sy hou toesig oor alles wat in haar huis gebeur.”
9 Augustus is Vrouedag en het dit ‘n jaarlikse instelling geword, maar wat presies is Vrouedag en hoe kan ek my kategese kleingroep help om vanjaar Vrouedag op ‘n nuwe manier te vier?
Nasionale Vrouedag is ‘n openbare vakansiedag wat jaarliks op 9 Augustus in Suid-Afrika gevier word. Die eerste Nasionale Vrouedag het op 9 Augustus 1994 plaasgevind. Met Vrouedag gedenk ons die nasionale optog wat in 1956 oor die land heen deur vroue uitgevoer was om beswaar aan te teken teen wetgewing wat swart Afrikaners verplig het om ‘n pas te dra. ‘n Pas was soos ‘n tipe ID boekie, wat nie-blankes, tydens die Apartheidsera, ten alle tye by hulle moes dra en daarsonder kon hulle nêrens heen beweeg het nie. Hulle het dus nie vryheid van beweging geniet soos blanke mense nie. Vroue van alle rasse het saamgekom en hierdie euwel uitgewys as iets wat onmenslik is. Vroue het dus ‘n groot rol in die afskaffing van die “pasboek” gespeel en gehelp dat alle mense die vryheid van beweging kon geniet, wat daartoe bygedra het dat mense se menswaardigheid herstel was.
So was daar dan ook vroue in die Bybel wat met hulle optrede en woorde, vir mense (waarvan die meeste mans was) gehelp het om God te sien en te ken. Neem maar die slavin dogtertjie in 2 Konings 5 wat Naäman na die profeet in Samaria verwys het vir genesing van sy melaatsheid. Ester, wat haar eie lewe op die spel geplaas het deur namens die volk Israel by die koning in te tree.
Ons lees ook van vroue soos Sara, Mirjam, Ragab, Debora, Rut, Hanna, Marta en Maria (die susters van Lasarus), Maria die ma van Jesus, Priscilla en Lidia.
Vroeër was vroue nie geken nie en het hulle ook geen status gehad nie, maar Jesus het vroue altyd hoog geag – selfs in sy laaste oomblikke op aarde word van hulle by die naam genoem. Daar is egter steeds vroue, veral in Moslem lande, wat steeds geen aansien of status geniet nie. Vroue met ‘n rigtinggewende stem, maar wat nie gehoor kan word nie.
Wie is die vroue in jou lewe? Luister ons nog na hulle stem? Neem ons nog hulle leiding ter harte?
Hoe kan ek en jy hierdie Vrouedag die vroue in ons lewe vier, eerbiedig en ook aanmoedig om hulle stem te laat hoor?
Hier is ‘n maklike wenk oor hoe jy met hierdie Vrouedag, die vrou of vroue in jou lewe kan vier:
- Laat die kinders in jou kleingroep al die vroue wat een of ander geloofsgroei-rol in hulle lewens speel, neerskryf.
- Gebruik nou hierdie lysie as ‘n gebedslysie en bid dan in jou stiltetyd vir hierdie spesifieke vroue.
- Maak nou ‘n kaartjie of kaartjies met die volgende woorde: “Dankie vir die onskatbare rol wat tannie in my lewe speel.” Heg ook die woorde van Spreuke 31 vers 25 tot 26 hierby aan, maar vervang die woorde “haar en sy” met “tannie”. Versier die kaartjie en gee dit dan vir die spesifieke vrou(e) wat jy gelys het. Jy kan ook ‘n lekkertjie of dalk ‘n blommetjie saam met die kaartjie gee.
Kyk ook gerus na hierdie hulpmiddels: https://dinkjeug.co.za/vrouedag-2021/
Luister hier na die volledige podcast: