Hoe om jou groep aan te moedig om visioene te sien soos in Handelinge 2 – Deel 2
Christi Thirion gesels vandag verder oor die tema van visioene sien en drome droom soos in Handelinge 2.
Verlede keer het ek met julle gedeel dat die Wes- en Suid-Kaap se sinodale Diensgroep vir Jeug- en Familiebediening al vir ʼn baie lang tyd Joël se profesie, soos Petrus dit aanhaal in Handelinge 2 met sy Pinkster-preek, gebruik as ons leidende teks. Uit hierdie gedeelte hoor ons die Here se aanmoediging dat die werk van die Gees ons gaan dring om intergenerasioneel te dink vir bediening.
Petrus sê in Handelinge 2:17-18
17“ ‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God:
‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort –
julle seuns en julle dogters sal profeteer,
en julle jongmense sal visioene sien,
en julle ou mense sal drome droom.
18Ja, ook oor my slawe en slavinne
sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,
en hulle sal profeteer.”
Ons het verlede keer genoem dat die manier hoe ons hierdie gedeelte laat waar word in ons dag, is om te luister en luister. Die eerste luister waaroor ons verlede week gesels het (en gaan luister dit eers hier voor jy verder gaan vandag), is luister na die Bybel en die tweede luister is luister na die jongmense. In deel twee gesels ons vandag oor die tweede luister.
Ons lees in die Bybel ʼn paar maal van jongmense wat die gang van die geskiedenis van God se mense verander het, deur te sê wat hulle by God gehoor het. Die storie wat die vinnigste na vore kom in my gedagtes is die storie van Samuel wat as seun ʼn profetiese boodskap aan Eli moes oordra. Ek dink ook sommer aan Naäman se dienskneg-dogtertjie wat hom na die profeet Elisa verwys vir sy velsiekte. En hoe oud was Dawid toe hy aan Goliat die boodskap van God se krag gebring het? Ek wonder ook sommer oor hoe oud Gideon was en daarmee saam dalk Daniël en sy drie vriende? Elkeen van hierdie name en stories is vir ons opgeteken omdat grootmense na die boodskappe van hierdie jongmense geluister het en dit is ons volgende gereedskap om die drome, visioene en profesieë waarvan Petrus praat, na vore te bring.
Die belangrikste manier om die drome, visioene en profesieë van jongmense te laat gebeur soos in Handelinge 2, is wanneer ons na hulle luister en dan met erns luister, omdat hulle ook die Heilige Gees ontvang het. God belowe by elkeen se doop dat die Gees hulle sal begelei en toerus en dit sluit ons jongmense in!
Daar is ʼn paar eenvoudige tegnieke wat ons hiermee help en ons het dit al in die verlede op hierdie podcast hanteer. Maar kom ons bring dit in verband met vandag se tema. Ons jongmense is meestal bymekaar in kategese of kleingroepe. In ons kleingroepe kan ons dus die volgende doen.
Die eerste is om die speelveld gelyk te maak. Met ander woorde, elkeen in die groep se stem is ewe belangrik. Ons moet daarom ruimte gee dat almal in die groep kan praat – die praters minder en die stilles meer. ʼn Item soos ʼn praat-paaltjie kan ons hiermee help en dit kom van ʼn seuns-groep waarvan ek weet, wat eendag ʼn strand-krieketpaaltjie versier het as hulle praat-paaltjie. Die een wat die paaltjie het, mag praat. As jy nie die paaltjie het nie, mag jy niks sê nie. Die paaltjie word dan in die groep omgestuur, sodat elkeen ʼn beurt kan kry. Jy kan enige item gebruik om vir een persoon op ʼn slag ʼn spreekbeurt te gee.
Die volgende tegniek is aktiewe luister. Die gedagte is om te ontvang wat die jongmens gesê het. In Engels sal ons sê dat ons nie luister om te “react” nie, maar luister om te “respond”. Ons luister dus nie na die jongmens om die regte antwoord by hulle te kry nie. Ons luister om te hoor wat hulle sê. As groepleier kan jy dan eerstens reageer deur hulle antwoord te eggo. Jy reageer op die jongmens deur jou antwoord-sin te begin met die woorde “Wat ek jou hoor sê, is…” en dan herhaal jy hulle antwoord in jou eie woorde. Indien jy nie mooi verstaan het of mooi geluister het nie, kan jy vir die jongmens vra om dit weer te sê. Jy kan jou antwoord dan begin met die woorde “Ek is nie seker of ek jou reg gehoor het nie. Sal jy asseblief weer jou antwoord gee?” Ekself sukkel deesdae met my gehoor en ek moet dit gereeld vra, maar die voordeel daarvan is dat jongmense gewoonlik dan hul bydrae anders verwoord en soms duideliker formuleer.
Ons jongmense is so ingeoefen om ʼn korrekte antwoord te gee dat hulle dit moeilik vind om te glo dat die Heilige Gees ook met hulle kan praat uit die Bybel. Die gevolg is dat ons waarskynlik ook deur baie ongemaklike stiltes sal moet sit voor hulle gaan begin bydraes maak wat ons aan Handelinge 2 laat dink. Maar stilte is ook ʼn hulpmiddel in hierdie proses. Wanneer volwassenes die ongemaklike stilte breek deur hulle antwoord te gee, leer ons jongmense dat hulle nie ʼn bydrae moet maak wanneer hulle onseker is nie. So, los die stilte, laat die ongemak meer word, totdat een van hulle iets waag. Dis baie kere die onseker antwoord – soos Petrus wat uit die boot op die water klim – wat die verbeelding, drome en visioene na vore laat kom.
Laastens is die spasies waar ons jongmense hoor ook belangrik. Ons moet hulle hoor in die veilige ruimte van hul kleingroepe, maar ons moet hulle ook hoor in ander ruimtes. Miskien kan ʼn paar jongmense in ʼn erediens met die prediker ʼn paneelbespreking oor ʼn teks doen. Miskien kan die kerkraad die belydenisklas nooi om by ʼn kerkraadsvergadering saam met hulle wandel in die Woord te doen. Miskien kan jongmense se getuienisse na ʼn kamp of ʼn uitreik op video opgeneem word vir terugvoer in die gemeente.
Saam met Handelinge 2 moedig prof. Malan Nel in sy boek Jeugbediening: ʼn Inklusiewe Gemeentelike Benadering ons ook aan dat jeugbediening iets is wat ons aan jongmense doen, maar belangriker is dat ons die saam met jongmense doen, maar ook toelaat dat bediening deur jongmense gedoen moet word.
Mag hierdie podcast jou inspireer om aan te hou dink en droom oor geloofsvorming. En mag jy onthou dat God jou sal lei deur sy Gees.
Luister hier na die podcast: