Hoe om jou groep aan te moedig om visioene te sien soos in Handelinge 2 – Deel 1
Christi Thirion gesels vandag oor die tema van visioene sien en drome droom soos in Handelinge 2.
Die Wes- en Suid-Kaap se Sinodale Diensgroep vir Jeug- en Familiebediening gebruik al vir ʼn baie lang tyd Joël se profesie, soos Petrus dit aanhaal in Handelinge 2 met sy Pinkster-preek, as ons leidende teks. Uit hierdie gedeelte hoor ons die Here se aanmoediging dat die werk van die Gees ons gaan dring om intergenerasioneel te dink vir bediening.
Petrus sê in Handelinge 2:17-18
17“ ‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God:
‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort –
julle seuns en julle dogters sal profeteer,
en julle jongmense sal visioene sien,
en julle ou mense sal drome droom.
18Ja, ook oor my slawe en slavinne
sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,
en hulle sal profeteer.”
Die vraag is nou, hoe doen ons dit? My kort antwoord is luister en luister. Ja, jy het reg gehoor – twee keer luister. Die eerste luister is luister na die Bybel en die tweede luister is luister na die jongmense. In deel een van twee gesels ons vandag oor die eerste luister.
Wanneer ons begin gesels oor luister na die Bybel is ons bekend met die Wandel in die Woord metodes, maar oor die laaste dekade was daar ʼn paar bewegings om die Wandel in die Woord te kombineer met onderrig, want ons besef ook uit ons tafelpote-model dat kennis – en daarom die oordra van kennis – ʼn baie belangrike deel van die geloofsvorming proses met jongmense is.
Om ons jongmense te help drome droom en visioene sien, moet ons hulle help luister na God se stem uit die Bybel. En hiermee bedoel ek regtig diep en vormend na die Bybel luister. Ek wil ʼn gewaagde ding sê en dit is dat ons nie jongmense gaan hê wat visioene en drome en profesieë van die Heilige Gees af gaan kry wanneer ons vir jongmense bedien met vraag-en-antwoord metodes of wanneer ons uur-lange seminare vir ons tieners aanbied nie. Ek twyfel ook of ysbrekers, speletjies, hot chocolate en lekker lewendige praise & worship ons daar gaan bring. Dit is alles die versiersuiker vir nagereg in geloofsvorming. Die hoofgereg, waaruit jongmense lewensvatbaar gaan groei, sodat hulle God se stem kan hoor om die visioene, profesieë en drome van die Gees gaan ontvang, is om jongmense te begelei om diep na die Bybel te luister.
Op grond van Thomas Groome se werk het dr. Nico Simpson die Kontak-Kategese model ontwikkel om diep, transformerende luister na die Bybel moontlik te maak. Hierdie model werk in ʼn kontak-golf, met drie bewegings – gister, vandag en môre. Die gister-beweging vra ʼn daar-en-dan vraag. Dit help ons om in die wêreld van die teks in te klim. Hierdie is die kennis oordra gedeelte. Ons moet jongmense help om die Here se stem uit die Bybel-gedeelte te hoor deur hulle ʼn voorsmaak te gee van die tyd en wêreld waarin die gedeelte geskryf is. Wat is die dinge wat die oorspronklike hoorder van ʼn gedeelte sou sien en ruik en voel en proe en hoor? Watter effek sou daardie omstandighede gehad het op die manier hoe hulle die boodskap van God hoor?
Die tweede deel van die golf is die vandag of hier-en-nou fase. Hier vra ons vrae oor hoe ons lewe en wêreld ooreenstem met die van daardie besondere teks. (Die Prediker sê juis in Prediker 1:9 dat daar niks nuut onder die son is nie.) Die groot lyn van elke storie in die Bybel sal op ʼn manier ooreenstem met die groot lyn van elke storie wat ons vandag beleef. Ons sien dit uitspeel in die verhoudings wat ons met God, ander mense, die aarde en onsself het.
Die volgende deel van die kontak-golf is die verder-en-vorentoe deel. Hier vra ons die vraag oor wat die Here vir ons wil doen of gee uit die teksgedeelte of dan ook wat die Here met ons wil doen of deur ons wil gee in die verskillende verhoudings. Dis hier waar die visioene en drome en profesieë van jongmense en oumense begin uitkom.
Die Ou Testamentikus Walter Brueggemann het gesê dat wanneer mense God se stem in die Ou Testament gehoor het, dit een van 5 gevolge gehad het, naamlik dat dit ons vry maak, vir ons opsies skep, vir ons rigting gee, dat dit ons uitdaag, maar dat dit ook vir ons hoop gee. As ons na die Bybel kyk, van Genesis tot Openbaring, is dit nie elke keer die inhoud van mense se drome en visioene en profesieë nie? Wanneer ons in besonder na Handelinge 2 kyk, is dit nie wat die Gees vir elke mens – en in besonder vir ons jongmense – wil oopbreek met Pinksterdag nie?
So, kom ons help ons jongmense om diep en vormend na die Bybel te luister, sodat hulle God se stem kan hoor, sodat hulle visioene van God kan ontvang, sodat hulle saam met ou mense drome sal droom en sal profeteer om God se koninkryk te laat kom.
Luister hier na die podcast: