Melanie Thirion gesels vandag oor hoe ons ons gemeente se fisiese ruimtes en kategese byeenkomste veilig kan maak vir kinders.
Luister hier na die podcast:
Eerstens, dinge om voor uit te kyk en in plek te kry voor ‘n byeenkoms: Jonger kinders het baie energie en leer deur te speel en te beweeg. Daarom is dit nodig dat die lokaal waar hulle byeenkom, veilig en gepas sal wees vir lekker speel. Stap vooraf deur die vertrek en kyk uit vir dinge wat maklik kan omval as maats daarop klim of daaraan stamp, bv. stoele wat opmekaar gestapel is of staaltafels wat op ‘n hoop gepak is.
Maak ‘n plan om die versoeking om daarop te klim en stamp, te verminder. Eerste prys sal wees om dit na ‘n ander vertrek te skuif as dit kan, of maak ‘n ander volwassene daarvoor verantwoordelik om die kinders af te hou – bv. ‘n tiener wat daarmee kan kom help.
Kyk ook uit vir die muurproppe in ‘n vertrek, veral in vertrekke waar babas en kleuters byeenkom. Klein vingertjies is baie lief vir klein gaatjies. Vra vir die koster om propbedekkings te koop en in die proppe te plaas.
Maak seker dat drade tussen die rekenaar en dataprojektor uit die pad is, sodat ‘n kind se voet nie daaraan kan vashaak en hulle val nie. Indien die drade vloerlangs moet loop, plak dit stewig vas met kleeflint.
Dink ook na oor die aktiwiteite wat julle gaan doen – is dit gepas vir die spesifieke ouderdomsgroep? Wanneer julle met skêre en gom werk, veral met jonger kinders, maak seker julle gebruik stomppunt skêre en nie-toksiese gom.
Tydens die byeenkomste is genoegsame volwasse toesig belangrik, veral wanneer julle in ‘n grootgroep byeenkom. Maak seker dat daar genoeg volwassenes is wat die kinders kan ontvang en ‘n oog kan hou dat niemand ongemerk uit die vertrek verdwyn nie. Wanneer kinders badkamer toe wil gaan, laat ‘n volwassene saam met hulle stap en wag by die deur.
Ons almal weet dat ongelukke wel van tyd tot tyd kan gebeur. Wanneer ‘n kind fisies seerkry, stel so gou as moontlik die ouers in kennis. Dis ook belangrik om te onthou dat geen medikasie mag aan ‘n kind toegedien word sonder hul ouers se toestemming nie. Maak dus seker julle het ouers se kontakbesonderhede.
Laastens, maak seker julle het ouers se toestemming om foto’s van die kinders te neem, veral as julle gemeente dit gebruik op julle sosiale media. Baie gemeentes het ‘n toestemmingsbriefie wat ouers aan die begin van die jaar onderteken om toestemming te gee.
Laat ons ‘n veilige kerk wees, sodat kinders veilig kan wees.