Skip to main content

Jean van Niekerk gesels vandag oor Vadersdag.

Luister hier na die podcast:

Vadersdag is ‘n dag wat vaders en vaderskap gedenk. Vadersdag word in Suid-Afrika op die derde Sondag van Junie gevier. Dit is die dag wat ons dankie sê aan die vaders in ons lewe en ook erkenning gee vir die rol wat hulle in die samelewing speel.

Om die dag te vier, bederf mense gewoonlik hul pa’s op allerhande maniere.  Alhoewel ons nie altyd weet watter geskenk om te koop nie, is daar soveel ander maniere om Pa te bederf.  Die eintlike idee is in elk geval nie om geskenke te gee nie, maar om tyd saam met ons pa te spandeer.

Wys jou pa dat jy omgee en hom waardeer. Dit is waarskynlik die belangrikste element van Vadersdag en is basies waaroor die hele dag gaan.  Wat ook al jy doen, maak seker dat jou pa spesiaal voel.

Om die dag te begin, is ontbyt in die bed natuurlik altyd ‘n wenner.  En vir ‘n geskenk,  enige iets wat jy self gemaak het.  Dit is dan ekstra spesiaal!

Ons gesin hou daarvan om saam kerk toe te gaan en daarna gaan die vieringe voort deur iets saam met Pa te doen. Dis sommer ‘n geleentheid om die hele familie ook te betrek as jy sou wou.

Hier is ‘n paar wenke wat jou kan help om Vadersdag vir jou en jou pa ‘n vreugdevolle ervaring te maak:

Dink oor wat jou pa die gelukkigste maak.  Dan besluit jy hoe julle Vadersdag saam kan vier.

  • As jou pa hou van visvang, pak jul visstokke en ry see toe, of na die naaste dam, pak ook ‘n piekniekmandjie en kombers. Sit sommer vandag Pa se aas aan, sodat hy net kan ontspan en lekker saam kuier!
  • Dalk hou jou pa van die natuur en sal hy ‘n mooi staproete waardeer. Pak genoeg water en eetgoed en gaan waardeer saam die pragtige natuur.
  • My pa hou van tuinmaak. Vir hom is ‘n uitstappie in ‘n mooi kwekery of ‘n mooi tuin die ideale geskenk.
  • En dan moet julle nie vergeet nie, ALLE pa’s hou van braai!! As jul net rustig tuis wil wees, pak die hout, steek die vuur aan en braai vir Pa iets lekkers!

Daar is soveel lekker dinge wat mens kan doen. Dink aan jou pa se stokperdjie en belangstellings en besluit self hoe jy jou pa se dag ekstra spesiaal kan maak.

As jy dalk nie ‘n vaderfiguur in jou huis het nie, hoef jy nie bekommerd te wees nie, want God, ook ons aardse vaders se Vader, sal ons nooit verlaat nie.

Ons lees in Johannes 1:12 (NIV): “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”

    • Hierdie vers beklemtoon dat diegene wat in Jesus glo, kinders van God word.

2 Korintiërs 6:18 (NIV): “En Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, sê die Here, die Almagtige.”

    • Hierdie vers bevestig God se belofte om ‘n Vader vir ons te wees.

Ek hoop julle het almal ‘n baie spesiale Vadersdag saam met die mense vir wie jul liefhet.

Leave a Reply