Anriëtte de Ridder gesels vandag oor selfsny by tieners. Vandag se podcast kan ook spesifiek aangestuur word aan alle ouers.
Luister hier na die podcast:
Ek is nie ‘n mediese dokter of sielkundige nie, maar ek wil as predikant en ma bloot vandag ‘n paar gedagtes deel oor die onderwerp om ons meer bewus te maak daarvan.
Selfsny, of selfskade, is die doelbewuste fisiese besering van jou eie liggaam as ‘n manier om emosionele pyn of spanning te hanteer. Dit kan insluit om jouself te sny, brand, krap, te stamp of enige ander aktiwiteit wat lei tot liggaamlike skade. Dit is nie dieselfde as ‘n selfdoodpoging waar iemand bv. hulle polse sny of pille drink nie. Die doel van selfsny is nie om jou lewe te beëindig nie, maar om verligting te bring van emosionele pyn deur dit te vervang met fisiese pyn en ‘n adrenalien rush te ervaar.
Waarskuwingstekens om dit raak te sien is fisiese beserings soos snymerke, brandmerke, of blou kolle op jou tiener se liggaam. Die tiener mag dalk die beserings probeer wegsteek deur langmou klere te dra al is dit warm, of bv. op die bobene merke te maak waar dit nie maklik gesien word nie.
Jy mag dalk ook skerp voorwerpe in die tiener se besit vind. ‘n Tiener wat selfbeseer mag dalk toenemend hulself afsonder. Die tiener kan in gesprekke verwys na ‘n intensiewe emosionele pyn of spanning wat hulle ervaar. Selfsny of selfskade kan verband hou met depressie en angs, so wees bedagsaam vir ander tekens van hierdie toestande.
As jy dink dat ‘n tiener hulle self sny of beseer, is dit belangrik om hulle op ‘n liefdevolle en ondersteunende manier te nader. Moedig hulle aan om met jou oor hul emosies te praat. Luister sonder oordeel en bied ‘n ondersteunende skouer.
Ouers of versorgers het ‘n kritieke rol om te speel in die ondersteuning van ‘n tiener wat selfbeseer. Dit is belangrik om hulle vertroulik te ondersteun, maar terselfdertyd moet ‘n mens ook professionele hulp betrek, byvoorbeeld ‘n sielkundige wat die tiener kan help om op ander maniere hulle emosies te verwerk en onderliggende oorsake kan aanspreek.
Onthou dat jy nie alleen is op hierdie reis nie en dat daar mense en hulpmiddels is om jou by te staan. Besoek bv. die Suid-Afrikaanse depressie en angs groep se webtuiste by www.sadag.org asook www.depressie101.co.za vir meer inligting sowel as noodnommers.