Skip to main content

Anriëtte de Ridder gesels vandag oor nuwejaarsvoornemens vir ‘n kategeet.

Dis ‘n splinternuwe jaar en daardie tyd waar ons gewoonlik nadink oor dinge wat ons nuut wil doen, anders wil doen of ophou doen die jaar. Die vraag wat ek vandag vir jou wil vra, is: Watter gewoontes wil jy as kategeet kweek om ‘n betekenisvolle jaar te hê?

Skryf dalk vir jouself ‘n paar voornemens neer van dinge wat jy belangrik ag.

Hier is ‘n paar waaraan ek kon dink:

Eerstens is die belangrikste voorneme van enige kategeet (volgens my) om die jongmense of kinders wat aan jou toevertrou is, se geloof te vorm – m.a.w. jou groepie geestelik te begelei sodat hulle geloof in Jesus kan verdiep. Kom in die gewoonte om elke week moeite te doen om elke kind of tiener persoonlik te leer ken, hulle verjaarsdae te onthou en hulle gereeld te WhatsApp. Onthou dat jou primêre doel is om by hulle ‘n liefde vir Jesus te kweek. Bid ook gereeld vir hulle.

Dit beteken tweedens dat jy ook jou eie geloofsgroei ‘n prioriteit maak, sodat die kinders daardeur geïnspireer en gelei kan word. Daar’s ‘n gesegde wat lui “Faith is caught, not taught” wat beteken dat kinders en tieners deur jou dade, gesindheid en gewoontes baie meer gaan leer as deur jou woorde. Besluit dus watter daaglikse en weekliks gewoontes jy gaan beoefen wat jou help om self by die Here uit te kom.

Derdens is ‘n goeie voorneme vir ‘n kategeet om voorbereid op te daag by die groep – woon die toerusting geleenthede by, berei elke week jou ontmoeting voor en luister na die weeklikse DinkJeug podcasts, sodat jy gereed kan wees en God jou kan gebruik.

Vierdens is dit belangrik om ‘n versorgende en inklusiewe ruimte te skep waar elke kind welkom, waardeer en veilig in die groepie voel. Hierdie voorneme daag jou uit om gereeld introspeksie te doen en vrae vir jouself te vra soos hoe kan ek die kind wat my irriteer in die groepie, ook liefhê of die kind wat nooit opdaag nie, getrou opvolg?

En ‘n laaste voorneme op my lysie is wees aanpasbaar – alles gaan nie altyd volgens plan nie en groepsdinamika is nie iets waaroor jy altyd beheer het nie. Soms daag min kinders op vir kategese, soms loop die gesprek of les net eenvoudig anders as beplan, soms is daar ‘n kind wat die groep ontwrig – wees geduldig en behou jou humorsin. En onthou dat God nie net deur die inhoud van die les of die Bybel werk nie, maar ook deur jou voorbeeld en liefde in die oomblik.

As jy jou eie lysie voornemens neergeskryf het, oorweeg om jou lysie met ‘n ander kategeet, mentor, of ‘n vriend te deel wat jou verantwoordbaar kan hou. Vra ook vir iemand wat nie self ‘n kategeet is nie, om vir jou te bid vir hierdie jaar.

 

Luister hier na die podcast:

 

Leave a Reply