Anriëtte de Ridder gesels vandag oor nog 3 geloofsgewoontes wat kan bydra tot goeie geestesgesondheid – of in Engels mental health.
Luister hier na die podcast:
Geloofsgewoontes kan bydra om in ‘n wêreld vol gejaagdheid, spanning en chaos, innerlike vrede, balans en herstel te bring. Een van hierdie gewoontes is om stil te raak en te mediteer. Christelike meditasie is nie dieselfde as oosterse meditasie nie. Dit is nie die leegmaak van gedagtes nie, maar eerder die geloofsgewoonte om jou gedagtes rustig te maak en op een waarheid of teksgedeelte of woord te fokus. Psalm 1 beskryf die gewoonte as om in die Woord vreugde te vind en dit te oordink. Dit help ons om bewus te raak van God se teenwoordigheid by ons en sy vrede te ervaar.
‘n Kategeet kan gerus kort oomblikke van stilte, refleksie en meditasie deelmaak van sy/haar kategese tyd om kinders of tieners te help om self met die Here te gesels en op Hom te fokus.
Ouers kan ook hul kinders aanmoedig om stil te raak en te mediteer. Dit help kinders om meer bewustelik te lewe en hulle emosies te reguleer. Begin deur ‘n minuut stilte te gee waar kinders of tieners op een ding fokus, bv. om te luister na die geluide om hulle of hulle eie asemhaling of op een woord te fokus bv. liefde. Mettertyd sal dit makliker raak vir hulle om langer stil te sit en hulle gedagtes te fokus.
‘n Praktyk wat hiermee kan help, is om kuns in te span. Die teken van mandalas (of die inkleur van prente, simbole of ikone). As jy dalk nog nie van mandalas gehoor het nie – dit is sirkelvormige geometriese vorms wat al sedert die vroegste eeue ook deur Christene gebruik is om hulle te help om te fokus op God se vrede.
Wanneer jy teken of inkleur of ander kunsvorme beoefen, fokus jy jou gedagtes op die patrone, vorms, en kleure. Dit skep ‘n rustige meditatiewe ruimte waarbinne jy jou gedagtes kan stilmaak en op jou innerlike lewe kan fokus. As ‘n mens bv. mandalas of Christelike ikone google, kan jy dit inspan vir kategese sowel as dit gebruik om die verskillende kerkjaar seisoene en feeste te vier. Vir baie kinders wat oorgestimuleer is, is hierdie eenvoudige kuns ‘n manier om God se rus en vrede te vind. En dit is ook ‘n manier waarop jonk en oud saam, m.a.w. intergenerasioneel iets saam kan doen.
Ten slotte, die geloofspraktyke van stil word, mediteer en kuns beoefen kan ‘n diepgaande invloed op ons geestesgesondheid hê en vir ons help om die Here se vrede te ervaar.
Luister ook na: