Anriëtte de Ridder gesels vandag oor hoe om Hemelvaart te vier.
Vandag se podcast kan ook aangestuur word vir alle ouers van kinders of tieners.
Luister hier na die podcast:
Hemelvaart is ‘n dag wat soms vinnig verbygaan, maar dit is so ‘n belangrike deel van ons Christelike geloof. Maar vir baie kinders en tieners kan die prentjies van Hemelvaart die indruk skep dat Jesus nou daar ver woon, in die hemel of bokant die wolke. Hoe kan ons tuis, of in die kategese klas of selfs in die skoolklas of saalperiode, Hemelvaart verduidelik en vier?
Ek het al ‘n paar keer vantevore podcasts opgeneem oor Hemelvaart, luister gerus ook daarna deur na “Hemelvaart” te gaan op die DinkJeug webtuiste, maar hier is ‘n paar nuwe idees en metafore om daaroor te gesels.
- Gebruik ‘n MEDALJE. Verwys na oorwinnings wat nie net vir een persoon iets beteken het nie, maar ‘n groter oorwinning behaal het bv. Elana Meyer se medalje in 1992 by die Olimpiese Spele. Verduidelik dat ‘n medalje ons herinner dat Jesus se Hemelvaart beteken dat Jesus die dood en die sondige wêreld oorwin het. Ons wat glo in Jesus, is God se kinders en daarom deel ons in hierdie oorwinning. Deel sjokolade medaljes uit of laat die kinders medaljes maak met die woorde op “Hemelvaart: Jesus het oorwin!”
- ‘n KROON is ‘n soortgelyke metafoor, want dit herinner ons dat Jesus ‘n ander tipe koning is, wat op ‘n ander manier regeer oor die aarde.Hy is nie fisies teenwoordig in mensevorm nie, maar Hy is oral, alomteenwoordig en regeer. Kinders kan krone maak en versier.
- ‘n Ander metafoor, is dié van ‘n REËNBOOG wat ons herinner dat Jesus se Hemelvaart beteken dat Jesus se Gees nou by al sy kinders is – en sy kinders is divers en veelkleurig soos ‘n reënboog se kleure – uit elke volk en taal. Almal word ingesluit. Hy is by al sy kinders, en hoor al ons gebede.
Daar is baie craft idees vir kinders aanlyn oor verskillende tale en volke wat Jesus aanbid of hulle kan helder kleure aantrek, helder ballonne of vlieërs vlieg, of deel verskillende kleure plakkers uit met die woorde “Hemelvaart – vir al God se kinders”.
Tieners kan dalk ‘n colour run doen of reënboog kleurige pannekoeke bak of roomys versier. Of bou ‘n reënboog-gebedstasie met verskillende kleure kaartjies wat opgeplak word. Elkeen kies ‘n kleur wat hulle gebed voorstel bv. rooi vir siek mense, groen vir mense in oorlog, geel vir ‘n dankie, ens. - Laastens herinner ‘n APPEL wat val ons aan swaartekrag of gravitasie krag. Ons kan nie swaartekrag sien nie, maar ons ervaar die krag of effek daarvan. Net so kan ons nie Jesus na sy Hemelvaart sien nie, maar ons kan die effek van sy krag en werking op aarde ervaar. Betrek kinders of tieners by die gravitasiekrag uitbeelding en deel appelskywe uit aan almal.
Laai gerus die Dinkjeug Familie App gratis af op die Google Playstore of Appstore waar daar elke dag ‘n nuwe podcast is vir families om na te luister. In die week van Hemelvaart word daar elke dag ‘n ander teks en metafoor bespreek.