Christi Thirion gesels vandag oor wat ons kan doen met kategese vir kinders wat ongereeld bywoon.
Luister hier na die podcast:
Ek het eendag ʼn gesprek gehad met ʼn groepleier. Hy was radeloos oor wat hy die “sluipers” in sy groep genoem het. Hy was aan die begin van daardie jaar baie opgewonde oor die groot groep seuns met wie hy kon werk, maar na die langnaweke in die tweede kwartaal getref het en wintersport al strawwer geraak het, het die groep drasties begin uitdun. Tydens die derde kwartaal was die grootste deel van die groep in die kategorie van die sluipers. Sluipers is die kinders wie se naam op die lys is, wat deel is van die WhatsApp groep, maar baie selde opdaag vir die groepbyeenkoms.
Een ding wat ek weet, is dat hierdie fenomeen nie uniek was aan sy groep nie, nie aan ons gemeente nie en ook nie oor tyd nie. Dit is egter ʼn skrale troos wanneer jy opgewonde is oor jou verhouding met Jesus, die Goeie Nuus van die Bybel en ʼn passie vir jongmense het. Wat doen ons dan wanneer kinders ongereeld kategese bywoon?
Die eerste ding begin eintlik by die begin van die jaar. Reg aan die begin van die jaar is dit belangrik om die jongmense in jou groep se name te leer ken en hoe meer jy van hulle kan onthou, soos watter skool hulle is, of hulle in die koshuis is of nie en watter sport hulle aan deelneem. Wanneer jy sulke besonderhede van jou groeplede onthou, help dit hulle om tuis en deel van die groep te voel. Dit help dat hulle meer motivering het om na die groep te kom, want die Here het ons as trop-diere gemaak en ons wil graag wees waar ons tuis voel. So, ʼn eerste praktiese ding is memoriseer jou groeplede se name.
Buiten dat jy die kinders beter leer ken en dit hulle meer tuis laat voel, gee dit ook vir jou nodige inligting. Die agtergrond kan jou vooraf waarsku watter jongmense weens skool uitdagings minder by kategese gaan wees. Ek kan jou ʼn waarborg gee dat kinders wat op ʼn ander dorp skoolgaan en boonop in die koshuis is en wintersport doen, se bywoning drasties minder gaan wees as die ander kinders s’n. Wanneer jy dit weet, kan jy dit voorsien. Ons tweede praktiese ding is dus stel belang in wat hulle doen.
Hoe beter jy jou groep leer ken, hoe meer sal jy ook weet wat ander omstandighede is wat ʼn rol kan speel, soos hoe die kinders se familie situasie lyk. Byvoorbeeld as ʼn kind se ouers geskei is, is hulle dalk slegs elke tweede naweek in ʼn posisie om die groep by te woon. Jy sal ook ʼn idee hê van watter impak kinders se program het, soos wanneer ʼn kombinasie van sport op ʼn Saterdag en ʼn toets of taak op ʼn Maandag die kinders forseer om kategese oor te slaan ter wille daarvan om alles gedoen te kry. Die derde praktiese ding is dat “small talk” en ʼn ysbreker belangrike aspekte van jou groeptyd moet wees.
Dit bring ons by die praktiese raad vir wanneer die groeplede nie daar is nie. Hou maar bietjie register van kinders wat bywoon en die wat nie bywoon nie – nie om hulle “op te check” nie, maar om te weet wanneer hulle nie daar is nie. Dan, gedurende die week kan jy hulle opvolg met ʼn persoonlike WhatsApp boodskap of stemnota. ʼn Stemnota is hier dalk ʼn goeie keuse om met ʼn vriendelike stem te sê:
“Hi Christi, ek het jou Sondag by die kategese gemis. Ek loer gou in om te hoor hoe dit met jou gaan. Laat weet gerus of daar iets is waarvoor ek vir jou kan bid en of ons jou met iets kan help.”
Die meeste van die tyd sal die kind antwoord met iets soos “Hallo oom/tannie, ek is jammer ek was nie Sondag daar nie, ek moes vroeg teruggaan koshuis toe / leer vir Maandag se toets / wat ook al die rede was.”
Wat ook al die kind vir jou terugstuur, kan jy mee antwoord deur dit te formuleer as ʼn gebedsversoek en dan sommer vir die kind te bid waar jy is. So bevestig jy dat die kind belangrik is vir die Here, vir jou en vir die groep en die kind kom agter dat hy/sy raakgesien word. Jy kom ook agter of die kind ʼn behoefte of uitdaging het wat bywoning moeilik maak en dit gee vir jou ʼn leidraad om iets daaraan te doen.
Laastens kan jy ʼn herinnering van die groep se materiaal later in die week weer op die WhatsApp groep deel. Die meeste goeie materiaal het ʼn kort opsomming of inleiding wat jy kan aanstuur, saam met die teks of teksgedeeltes wat julle hanteer het of as daar ʼn doen-idee of uitdaging in die materiaal was. Dit help die jongmense om op hoogte te bly van wat die groep gedoen het en om dan te voel hulle is op hoogte wanneer hulle weer die groepbyeenkoms bywoon.