Johan Janse van Rensburg gesels vandag oor: Hoe skop ons as kleingroep of kategese die jaar af?
Ons almal weet die jaar spring met ‘n bang weg. Wanneer dit eers begin het, is daar geen omdraai kans nie! Wanneer dit kom by kategese is hierdie afskop, die eerste ontmoeting, (of die eerste paar geleenthede) ongelooflik belangrik. Die rede hiervoor is omdat dit die fondasie lê vir die res van die jaar. Dit kan een van twee goed doen: dit kan ‘n verwagting skep, of dit kan mense teleurstel.
Hier is ‘n paar wenke om daardie eerste ontmoeting ‘n bietjie makliker te maak, almal gemakliker te laat voel en dalk jou eie onsekerhede aan te spreek. Hierdie is maklike, praktiese dinge wat almal van ons kan doen.
Sorg dat jy almal in die groep se name het. Maak seker dat jy die korrekte spelling daarvoor kry. Baie belangrik is dat jy almal wat nuut aansluit daardie dag of die wie se naam nie op die lys is nie, se naam op die lys skryf. Maak ook seker dat jy hulle en hulle ouers se kontakbesonderhede het, om so die kommunikasie vir die res van die jaar makliker te maak.
Dit is ook baie belangrik om jouself behoorlik bekend te stel. Net omdat jy die jongmense ken en jare lank in dieselfde gemeente is, beteken nie dat hulle weet wie jy is nie. Stel jouself bekend en gee ook vir elke jongmens jou kontakbesonderhede sodat hulle ouers ook weet wie jy is.
As dit ‘n ouer groep jongmense is wat hulle selfone by hulle het, kan julle sommer in die ontmoeting ‘n Whatsapp groepie maak met almal in die groep se name op sodat julle deur die week met mekaar kan kommunikeer. Maak dalk ook na die ontmoeting ‘n aparte groep vir die ouers sodat jy reg deur die jaar direk aan die ouers kommunikasie kan aanstuur: terugvoer oor die kategese, wenke hoe hulle met hulle kinders kan gesels oor die temas wat julle by die byeenkoms gehad het, herinnerings aan belangrike byeenkomste of sommer net om in te loer en te hoor hoe dit met die ouers en hulle kinders gaan.
Wanneer hierdie admin deel afgehandel is, kom die lekker deel. Herinner die groep waar julle elke week bymekaar gaan kom as julle ‘n spesifieke lokaal het sodat niemand alleen of verward hoef te voel nie. Maak seker hulle weet wat hulle elke keer moet saambring: hulle Bybels, ‘n notaboek of dalk het julle spesifieke boeke waaruit julle werk. Maak ook seker as julle spesifieke boeke het dat elkeen hulle naam in skryf voordat die boek sy eienaar verloor.
Dan kom die pret: verhoudingsbou. Maak die eerste ontmoeting opwindend en fokus daarop dat almal mekaar beter leer ken deur een of ander lekker ysbreker te speel en kenmekaar te speel.
Die doel van ‘n ysbreker is om almal te laat ontspan. Dit kan sommer net ‘n lawwe speletjie wees wat daardie ergste spanning en onsekerheid breek en om die groep aan die beweeg te kry. Iets soos “Rock, paper, scissors” waar almal met mekaar meng en lekker dinge doen. Daarna kan mens ‘n kenmekaar aktiwiteit doen waarin almal iets meer persoonliks deel. ‘n Voorbeeld hiervan is om ‘n paar plastiek diere in ‘n houer te gooi, elkeen ‘n kans te gee om ‘n dier te trek en dan iets noem van die dier wat ooreenstem met een of ander karaktereienskap van hulself. So kan almal ook hulle name herhaal sodat die groep vinnig mekaar se name leer ken.
Bring ook iets lekker om te eet, skep ‘n feestelike atmosfeer vir die eerste geleentheid en geniet die res van die jaar saam met mekaar. Mag dit vir julle ‘n wonderlike jaar wees waarin julle saam kan groei in julle geloof, nader aan die Here kan groei en meer en meer van sy liefde gaan uitdeel.
Luister hier na die podcast: