Anriëtte de Ridder gesels vandag oor: Hoe om die jaar af te sluit met jou kategese groep
Dis die tyd van die jaar waar die eksamens begin en kinders se bywoning van kategese soms ook daal. Dit is egter belangrik om die jaar op ‘n hoogtepunt af te sluit. Moenie vroeër met kategese ophou, net omdat minder opdaag nie. En kommunikeer duidelik wanneer die laaste Sondag is, en wanneer of hoe julle die jaar gaan afsluit, sodat almal kan deel wees. Hier is ‘n paar kreatiewe idees.
Luister hier na die podcast:
- Eerstens, kan julle terugdink oor die afgelope jaar by die kategese en saam ‘n dankbaarheidsboom maak. Gebruik ‘n groot tak of ‘n Kersboom of teken ‘n kartonboom en laat die kinders elkeen op papierblare skryf waarvoor hulle dankbaar is. Hang dit aan die boom, bid saam en vier só dit wat die Here die afgelope jaar gedoen het.
- ‘n Tweede idee is om dankbaarheidskapsules te maak. Gee vir elkeen ‘n leë pilhouertjie en laat hulle dit versier. Binne-in skryf hulle iets wat hulle in die jaar geniet het en iets waarvoor hulle bid. Bêre dit dan vir hulle tot volgende jaar as ’n herinnering om in die toekoms na terug te kyk oor dit wat die Here doen.
- ‘n Derde idee is om ‘n speletjies Sondag met ’n Kersfees-tema te reël waar jy eenvoudige speletjies met hulle speel soos “musical statues” op die maat van Kersliedjies, of ‘n geskenk-uitruil speletjie waar elke kind ‘n eenvoudige handgemaakte geskenkie of sjokolade bring.
- Vierdens kan die afsluiting ook ‘n dag wees vir Kersversierings of Kerskaartjies maak– daar is baie voorbeelde en idees hiervoor aanlyn.
- Vyfdens kan jy ook die Kersverhaal gebruik en hulle kan dit op ‘n interaktiewe en informele manier onvoorbereid opvoer – die kinders kan byvoorbeeld die karakters met besemstokke maak en tussendeur Kersliedere sing.
- Nog ‘n idee is om ‘n skattejag te reël waar kinders in groepe saamwerk om verskillende items te vind wat op die ou end die Kersverhaal uitbeeld soos wol vir die skaapwagters en ‘n wortel vir Maria en Josef se donkie.
- ‘n Idee vir tieners is om ‘n almanak vir elkeen te gee wat hulle kan versier en waarop hulle inspirerende aanhalings en Bybelverse kan skryf vir volgende jaar. Gebruik sommer die kerkalmanak. Dit kan hulle help om geestelike doelwitte te stel.
- Tieners sal ook ‘n Kersfees fliek-aand geniet waar hulle ’n inspirerende fliek met ‘n Kersboodskap kyk met popcorn en koeldrank. Gesels na die tyd oor die boodskap van die fliek.
- Verder sou ‘n mens ook die jaar kon afsluit met ‘n diensprojek bv. om kospakkies te verpak vir mense in nood of om ‘n insameling te reël of selfs om Kerskoekies te bak vir bure.
- En ‘n laaste idee is om ‘n tehuis of ‘n organisasie of die plaaslike hospitaal of polisiestasie te gaan besoek en om vir die inwoners of personeel Kersliedere te sing. Kinders en veral tieners hou daarvan om prakties ‘n verskil te maak – dit is ook tog waaroor die Kerstyd gaan en dit is dus ‘n ideale afsluiting van die kategese jaar.
Wat jy ook al besluit om te doen – hou dit eenvoudig en pret en onthou om te gesels oor die afgelope jaar asook die vakansie wat voorlê en saam te bid.