Hoe om die 3de kwartaal met woema af te skop
In die nuwe kwartaal is daar baie onbekende dinge – dalk ook vrae oor wat die Here vir ons beplan…?
Ons kan opgewonde wees dat die Here ‘n verskil in en deur ons lewens wil maak soos ons met mense werk. Soos Handelinge 1:8 vir ons sê: Die Here gee vir ons die krag. Die Heilige Gees gee ons die gawes en talente en alle hulpmiddels.
Vir hierdie kwartaal kan ons nuwe brille opsit:
- Brille van DAAR WEES
Ons moenie net in ons menswees (liggaam) daar wees nie, ons moet met ons hele wese daar wees. Ons gedagtes moet in die oomblik by hulle wees en nie in die verlede of toekoms nie. Ons vergeet van wat verby is en van dit wat nog moet gebeur. Laat jou aandag by die groep wees. - Brille van LIEFDE
Aanvaar elke kind of tiener net soos hulle is.
Almal het liefde meer nodig as enige iets anders.
Jy as kategeet of mentor moet die Here se liefde uitstraal na hulle. - CONNECT met jou groep
Wees eg met jou groep. Moenie probeer gesigte op plak nie. Deel jou ervaringe met hulle en deel jou getuienis.
God kan jou getuienis gebruik om ‘n verskil in jou groep se lewens te maak.
Praktiese wenke:
’n Goeie wenk is om die volgende items altyd by jou te hê, veral as jy ‘n laerskoolgroep het: ’n rolletjie wit tou, maskeerband, ballonne en boontjiesakkies. Met die tou of maskeerband kan jy altyd vinnig ‘n begin lyn maak of jou groep in twee deel. Indien jy ooit wonder wat om te doen, kan jy altyd die boontjiesakke uithaal en Warm Patat speel of kyk hoe lank die ballon in die lug kan bly.
Vir die volgende twee speletjies het jy ‘n bladsy met vrae nodig. Dit kan regtig enige vrae wees: vrae uit of oor die Bybel, vrae oor vroue uit die Bybel met die oog op Augustus wat vrouemaand is, Erfenisdag, waar in die kerkjaar ons is, wie julle dominees is… Maak net seker dat dit ouderdomsgepaste vrae is.
- Bou ‘n toring
Jy benodig genoeg papier- of plastiekkoppies, ’n tafel en jou bladsy met vrae.
Deel jou groep in 2 spanne. Maak beurte om vir elke groep ‘n vraag te vra. Vir elke regte antwoord, kan iemand uit die span ‘n koppie op die tafel sit om die fondasie van die toring te begin bou. Daarna word die koppies bo-op mekaar gestapel.
Elke groep bou hulle eie toring om te kyk wie se toring die hoogste is vóórdat dit inmekaar stort.
- Gooi die koppies
Jy benodig ’n tafel of plat oppervlak, papierkoppies met punte daarop gemerk (1 tot 5), tafeltennis balletjies, jou lys vrae en ‘n begin lyn.
Plaas die koppies op die tafel langs mekaar. Stapel twee of drie koppies op mekaar (onderstebo, bo-kant na onder, onderstebo, bo-kant na onder…) om ’n toring te maak wat die kinders dan kan omgooi. Sit die “punte koppie” heel bo op elke toring. Maak ten minste 3 tot 5 torings. Merk ook jou begin lyn waar die kinders van af gaan gooi.
Vir elke vraag reg geantwoord, kan ’n kind dan ‘n toring omgooi. Die span kry dan die punte daarop gemerk. Sit die koppies weer terug na elke vraag.
Dan, vir ons tieners…
- Klap-speletjie
Almal sit of lê in ‘n sirkel en plaas beide hande plat op die vloer. Laat hulle hul arms kruis om dit moeiliker te maak. Kies een kind om te begin deur die vloer te slaan met die palm van hul hand. Die klap word dan aangegee van hand tot hand in een rigting.
Indien die vloer twee keer geklap word met een hand, verander die rigting. Wanneer ‘n vuis geslaan word, word die volgende persoon oorgeslaan.
Wanneer iemand met die verkeerde hand klap of klap wanneer hy/sy nie moet nie, verloor hulle die verkeerde hand en hou aan speel met die een hand wat oor is. As die speler ‘n fout maak met die hand wat oor is, is hy/sy uit die speletjie.
Maak seker dat almal verstaan, voor die speletjie in alle erns begin.
Hierdie speletjies is ook wonderlike maniere om verhoudings te bou met jou groep en hulle met mekaar.
Skakels oor die speletjies en nog idees vir speletjies met jou groep:
https://sillyfishlearning.com/2018/01/floor-slaps-drama-game/
https://kidsbibleteacher.com/sunday-school-games/%E2%80%8B
Luister hier na die volledige podcast: