Tilana Meyer-Morkel gesels vandag oor hoe ons Hervormingsondag kan vier met kinders of tieners.
Die Hervorming begin in 1517 toe Martin Luther sy 95 stellings teen die deur van Wittenberg Kasteel kerk in Duitsland vasgespyker het. Hy het dit op 31 Oktober 1517 gedoen, en daarom vier ons Hervormingsondag op die laaste Sondag in Oktober. Martin Luther se stellings was ‘n reaksie op die Katolieke kerk wat vergifnis vir geld verkoop het.
Die kerk was reg vir verandering en mense het gehunker om vir God persoonlik te leer ken en nie verder deur kerkleiers geboelie te word nie. Hierdie hervorming (of reformasie) was die begin van nuwe kerkgemeenskappe waar mense kon tuiskom. Die reformasie het mense gehelp om na vyf Bybelse waarhede terug te keer. Hierdie vyf waarhede staan bekend as die vyf solas, en dit is wat ons geanker hou in ons geloof en verhouding met God.
Dit is vyf ononderhandelbare waarhede. Dit definieer en som op wat ons glo en al vyf is ewe belangrik. As een sou wegval, sou dit die totale Christelike prentjie verander het. Vir Hervormingsondag kan ons die metafoor gebruik dat hierdie vyf solas die vyf ankers is. Net soos wat ‘n anker bedoel is om ‘n skip in posisie te hou, is hierdie solas nodig om ons geloofslewe in posisie te hou. Dit help ons in vertroue en standvastigheid.
- Sola Scriptura – die Skrif alleen
- Solus Christus – deur Christus alleen
- Sola Gratia – deur Genade alleen
- Sola Fide – deur Geloof alleen
- Soli Deo Gloria – alle eer aan God alleen
Daar is verskeie tekste wat gelees kan word om elkeen van hierdie solas te verduidelik. 1 Timoteus 1:12-20 bevat iets oor elkeen van hierdie solas en gebruik ook die metafoor van geloof wat skipbreuk gelei het.
Verduidelik eerstens vir kinders en tieners waaroor die reformasie gegaan het en steeds gaan en hoe dit ons help om ons geloof uit te leef. Lees dan saam 1 Timoteus 1:12-20 en verduidelik wat dit beteken wanneer ons geloof skipbreuk lei. Ons kan egter hierdie skipbreuk voorkom deur geanker te bly. Daar is vyf ankers wat vir ons geloofslewe belangrik is.
Hierdie vyf ankers kan op verskillende maniere uitgebeeld word. Een manier is om helium ballonne te gebruik – vyf ballonne met vyf verskillende kleure wat aan die grond vasgeanker is. Daar kan op elke ballon ‘n prent of beeld vasgemaak word. Jy sou ook vir elke kind vyf simbole kon gee:
- Die Bybel of teksvers-boekmerk
- ‘n Kruisie
- ‘n Hart of brood en druiwesap (Nagmaalstekens)
- ‘n Vlam
- ‘n Kroon of ‘n hart wat God eer
Gesels dan met mekaar oor hoekom hierdie vyf ankers vir ons geloofslewe belangrik is.
Wat sou gebeur as daar een of twee sou wegval?
Luister hier na die podcast: