Sulet Brümmer deel ‘n voorstel vir ‘n afsluiting vir die kategete of groepleiers aan die einde van die jaar.
Luister hier na die podcast:
Benodighede: ‘n plat bak waarin jy ‘n paar vetplantjies kan plant, potting soil, klein steggies van vetplante of enige ander klein plantjies, klippies of klein houtskyfies, koki’s.
Plaas die bak met grond in en ‘n paar vetplantjies, selfs droë takkies, waar almal dit kan sien. Deel vir elkeen ‘n houtskyfie of klippie uit waarop hulle hul naam kan skryf.
Gesels oor die jaar wat verby is. Almal van ons het by tye goeie en slegte oomblikke beleef. Kom ons gebruik ‘n tuin as voorbeeld. Ons het in die Wes-Kaap hierdie jaar ‘n paar groot storms gehad. Na ‘n storm is dit erg om in jou tuin te gaan kyk hoeveel skade daar was. Bome val om, takke skeur af en waar dit val, breek dit weer ander plante. (Trek nou ‘n paar van die plantjies uit jou bak tuin uit en sit dit eenkant.)
Eers rou ‘n mens oor die verlies in die tuin – die gat waar die boom was, lê soos ‘n rou wond op die grasperk. Lateraan hark ‘n mens maar bo-oor die gat of plant iets anders. Maar na ‘n rukkie kom jy agter dat daar waar die groot takke skaduwee gemaak het, daar nou son skyn, en daar waar niks wou groei nie, daar skielik nuwe plante groei of oues wat nie wou groei nie, skielik floreer. So sleg soos wat dit was om die skade en verlies te sien, so bring dit nuwe lewe op anderste maniere.
Is dit nie ook waar vir ons lewens nie? Mense, verhoudings en dinge word uit ons lewens geneem en soms voel dit soos ‘n rou seer wat nooit weer gaan regkom nie. Maar selfs uit die gebrokenheid word spasie geskep vir nuwe dinge om te groei. Dink aan die beeld in Johannes 15 van die wingerdstok, waar die lote gesnoei moet word sodat dit kan lei tot vrugdra. Jy kan hier Joh 15 :1-8 voorlees.
Speel nou musiek in die agtergrond terwyl elkeen ‘n oomblik stilraak, dink aan een woord wat die jaar vir hulle gedra het, en dit op die agterkant van die houtskyfie of klippie skryf. Stuur nou die baktuin om of gee elkeen ‘n kans om hul skyfie neer te sit in die tuintjie, asook om die los plantjies terug te plaas soos dit vir hulle mooi lyk.
Eindig met gebed.
Indien moontlik, kan jy vir elke kategeet of groepleier hul eie plantjie gee om saam te neem.