Skip to main content

Anriëtte de Ridder gesels vandag oor gesprekke met tieners oor moeilike etiese kwessies.

Wêreldwye navorsing van die Barna Institute wys dat gelowige tieners die behoefte het om oor moeilike etiese kwessies te gesels met gelowige leiers of volwassenes. Dit beteken nie dat jy antwoorde hoef te verskaf nie, maar dat hulle bloot die ruimte wil hê om daaroor te gesels sonder oordeel of kitsoplossings.

Die sogenaamde “moeilike temas” sluit in selfdood, selfsny, depressie, fisiese of digitale boeliegedrag, skermverslawing, seksuele verhoudings, dwelms, alkohol, angs, selfbeeld, identiteit, ens. Al dink jy nie jou tiener sukkel met hierdie dinge nie, is die kanse goed dat hulle iemand ken wat wel daarmee worstel.

Dit is belangrik dat die Bybel nie lukraak gebruik word om vir elkeen van hierdie moderne kwessies kitsoplossings te bied nie. In die proses word verse buite konteks gebruik om eenvoudig ‘n regmerkie of verkeerde merkie langs ‘n moeilike kwessie te maak, terwyl dit ‘n moeilike kwessie is met rede. Die doel van die gesprek moet eerder wees om tieners ‘n geleentheid te gee om in die lig van hulle geloof en die Here se genade en liefde, eerlik oor die moeilike kwessies te gesels en hulle emosies en denke daaroor te verwoord en dieper na mekaar te luister.

  1. Stel waardes vas vir die gesprek sodat almal gehoor word en elkeen se siening gerespekteer word. Gee erkenning aan die ongemak en laat die tieners deelneem aan die opstel hiervan sodat hulle inkoop in die waardes. Plak dit op en verwys gereeld daarna.
  2. Wees eg. Jongmense weet wanneer ‘n volwassene onopreg is. Wees broos en praat direk en eerlik oor sensitiewe onderwerpe. Raak ook bewus van jou eie storie en voorkeure wat dalk jou siening beïnvloed. Maar moenie dat jou storie die gesprek oorheers nie.
  3. Skep ‘n veilige ruimte. Met enige moeilike onderwerp kan die gesprek warm raak. As die gesprek krities raak, vat ‘n breek sodat lede die kans kry om hul emosies te verwerk.
  4. Behandel die jeug as gelykes. Moenie neerhalende taal gebruik nie. Moenie voorhou dat jy alles weet of dat jy alles verstaan nie. Moenie enige opinies uitsluit of minag nie, al stem jy nie daarmee saam nie. Om die waarheid te sê, werk dit beter om jou eie opinie terug te hou en eerder meer neutraal te wees in die gesprekke. Moenie deur jou liggaamstaal of gesindheid kant kies nie.
  5. Moedig vrae aan. Vra jou groeplede om na mekaar se sienings te luister en aan mekaar vrae te vra. Maak ‘n lys van vrae soos dit opkom, maar moenie dit probeer antwoord nie. Gee eerder ruimte dat hulle self nuwe insigte ontdek.
  6. Omarm teenstrydighede. Mense het soms probleme om standpunte te hoor wat verskil van hulle eie siening. Maar elke moeilike onderwerp het nie noodwendig een regte of verkeerde antwoord nie. Om teenstrydighede en verskillende perspektiewe te kan respekteer, is deel van geloofsvolwassenheid en ‘n gewoonte vir tieners om in te oefen. Almal hoef ook nie by een antwoord te arriveer of eenders te dink nie.

Wanneer julle oor moeilike kwessies gesels, onthou om ouers te betrek as vennote om die gesprek tuis voort te sit. Gesels ook met jou predikant en betrek dalk ook rolspelers soos sielkundiges of ‘n maatskaplike werker om te kom gesels met die jeug. Ouer tieners kan ook genooi word om in klein groepe met jonger tieners te kom deel – ons het onlangs by ‘n kamp geleentheid gegee vir gelowige hoërskool tieners om met graad sewes te kom deel oor hulle ervarings van uitdagings in die hoërskool soos byvoorbeeld oor groepsdruk, identiteit, verhoudings, partytjies ens. en ek kon sien hoe die jonger tieners met aandag na hulle luister en vrae vra.

Hoe begin ‘n mens ‘n gesprek oor ‘n moeilike onderwerp? Soms kom die gesprek spontaan voor in ‘n ontmoeting. Maar soms moet jy dit intensioneel beplan. Daar is goeie materiaal wat vir jou leiding kan gee. Jy kan die gesprek begin deur eers kans te gee vir die tieners om self hulle gedagtes daaroor neer te skryf. Of laat hulle die week vooraf vrae oor die onderwerp anoniem in ‘n houer plaas. Of skep ‘n fiktiewe persoon met ‘n probleem of uitdaging en gee dan die groep kans om saam vir hierdie karakter ‘n storie met verskillende uitkomste te skep.

Luister hier na die podcast:

 

Leave a Reply