Skip to main content

Anriëtte de Ridder gesels vandag oor 3 geloofsgewoontes wat kan bydra tot goeie geestesgesondheid – of in Engels mental health.

Luister hier na die podcast:

Ons weet dat kinders en tieners baie druk en stres ervaar in vandag se tyd. Sommige ly ook aan depressie en angs. Watter geestelike praktyke kan ons inoefen wat hulle help om vrede in hulle lewens te verhoog?

Die eerste praktyk wat ek wil voorstel, is die van introspeksie of joernaalinskrywing. Om daagliks tyd te maak hiervoor gee hulle die geleentheid om hulle emosies en gedagtes te verwoord. Dit help hulle om dit dan beter te verstaan en te verwerk. Wanneer ‘n jongmens tydens “journalling” die vraag beantwoord – Hoe of waar het ek vandag God raakgesien? – help dit hulle om te midde van die alledaagse lewe, God se teenwoordigheid te herken. Oor tyd raak die joernaal inskrywings ‘n manier om hulle eie persoonlike reis en geestelike groei raak te sien. In die antieke tyd het hulle na hierdie daaglikse introspeksie verwys as The Daily Examen, of daaglikse examen.

In ‘n kategese groep kan hierdie gewoonte ingeoefen word deur eenvoudig weekliks een vraag te vra wat die jongmense dan elk in hulle eie joernaalboekie moet neerpen. Bv. Waar het jy die Here beleef die afgelope week? Vir kinders kan dit iets wees soos: Wat het jou gelukkig gemaak en wat het jou hartseer gemaak hierdie week? Kom ons vertel dit vir Jesus.

‘n Tweede gewoonte wat help met geestelike gesondheid is om diep asem te haal. Dit help om die gemoed te kalmeer en stres te verminder en op die Here se nabyheid te fokus. As kategeet kan jy “diep asemhaal-oefeninge” deelmaak van jou kategese tyd om ‘n rustige en gefokusde leeromgewing te skep.

Vir ouers kan die praktyk van diep asemhaal ‘n geleentheid wees om verhouding te bou met jou kind. Dit leer hulle om hulle emosies te bestuur wanneer hulle oorweldig voel en help jou as ouer om vanuit ‘n rustige gemoed te funksioneer. In die antieke kerk het hulle saam met die stadige in- en uitasem herhalend ‘n eenvoudige gebed gebid. Met die inasem: “Here Jesus Christus, Seun van God” en met die uitasem: “wees my, ‘n sondaar, genadig.” Dalk wil jy ook jou eie eenvoudige gebed só bid met die in- en uitasem.

Die derde gewoonte wat bydra tot ‘n positiewe en gesonde menswees, is dié van dankbaarheid. Om gereeld te dink aan dinge waaroor ons dankbaar is, help ons om ons afhanklikheid van God te erken en die dinge in ons lewe raak te sien waaroor ons bly kan wees. In die kategese groepie en by die huis kan ‘n dankie-fles of houer wees wat ‘n mens weekliks briefies in plaas met dinge waaroor elkeen dankbaar is. Na ‘n tyd kan julle dié briefies lees. Of ‘n kategese groepie kan op ‘n dankie boom / tak briefies vasmaak of knope ryg vir elke ding waaroor elkeen dankbaar is of saam kort dankie gebede bid. ‘n Mens kan ook vir mekaar in die huis dankie sê of ‘n kompliment gee oor dié dinge waaroor ons van mekaar dankbaar is.

Ten slotte, die geloofspraktyke van joernaalinskrywing, diep asemhaal en dankbaarheid kan ‘n diepgaande invloed op ons geestesgesondheid hê en kan uiterlike kalmte en innerlike vrede verhoog, want ons glo dat die Here ons bron van vrede en rus is.

Luister ook na:

DinkJeug Podcast: Nog 3 Geloofsgewoontes vir Geestesgesondheid

Leave a Reply