Skip to main content

Nico van der Walt gesels vandag oor geloofsgewoontes vir jou kleingroep tydens die vakansie: Dade

Een van die bekendste fisici in die geskiedenis was Isaac Newton en seker sy bekendste wet was: “Vir elke aksie is daar ‘n reaksie!”  Geloof en dade is soos hierdie Derde Wet van Newton – die een kan nie sonder die ander nie!

Maar kom ons verfris net weer ons geheue.  Geloof is om te glo in die geskenk wat Jesus vir jou gee!  Dit is een van die dae Kersfees en dan vier ons juis sy wonderlike liefde en dink ons ook dat Hy vir ons gesterf en opgestaan het en belowe om altyd by ons te wees deur die Heilige Gees wat in ons woon.

Dit is die “aksie” kant wat van God af kom, maar soos Newton gesê het, hierdie aksie van Jesus se liefde het ook ‘n reaksie van ons kant af en dit is waar die dade inkom!

Mense sien en beleef Jesus se liefde deur dit wat ons doen en leef!  En om ‘n gewoonte te kweek om ons geloof uit te leef deur mooi dinge te doen, wys dat geloof nie net ‘n kop en hart ding is nie, maar ook ‘n doen ding!  Die groot kerkwoord is getuienis – dit getuig van Jesus se liefde in my lewe.

Net soos baie van ons oor die vakansietyd tyd maak en het om meer te oefen en te gaan draf of swem of stap, net so moet ons tyd maak om ons geloofsgewoontes ook hierdie vakansietyd te oefen.

Hoe kan ek hierdie geloofsgewoonte van dade met my groep/kinders oor die vakansietyd oefen?

Ek sal eerstens begin deur net weer my groep te herinner aan die aksie/reaksie wet – m.a.w. dat dade ons reaksie is op Jesus se aksie!

Vir groter kinders met selfone sou ek hulle daaraan herinner deur voor die vakansie vir hulle te vertel dat jy deur die vakansietyd vir hulle weekliks ‘n hartjie emoji gaan stuur – daardie hartjie moet hulle herinner aan Jesus se liefde en jou omgee vir hulle!  Hulle moet dan ‘n “thumbs up” of hartjie terugstuur.  Challenge hulle deur te sê jy gaan kyk wie stuur almal terug en daardie klomp wat gereeld terug geantwoord het, gaan na die vakansie ‘n draairoomys of sjokolade kry!

Ek sou vir hulle dan verder op WhatsApp weekliks ‘n “challenge” stuur vir daardie week.  Hier is ‘n paar idees:

Vir week 1: Tel een sak vol plastiek/rommel op waar jy vakansie hou op die strand of as jy by die huis is, in jou woonbuurt/kompleks.

Week 2:  Kyk of jy vir iemand die week prakties kan help met ‘n takie – help ‘n buur oom of tannie in sy/haar tuin, dra vir ‘n tannie of oom winkelpakkies tot by hul motor, help iemand ‘n tent opslaan in die kampplek.

Week 3: Maak ‘n kospakkie op van jul Kerstafel se kos en gaan gee dit vir iemand of maak ‘n klein kospakkie op met blikkieskos of noedels en gee dit vir iemand as ‘n Kersgeskenk

Week 4: Smile (en vir die ekstroverte wave!) vir almal met wie jy oogkontak maak hierdie week.  Wees vriendelik!

Week 5: Stuur ‘n mooi foto vir die groep van die vakansietyd en deel waarna jy uitsien in 2024!

Vir kleiner kinders sal ek ‘n “scavenger hunt” blad maak wat hulle kan afmerk met ‘n prys vir almal wat volgende jaar die bladsy terugbring en al die take gemerk het.

Hier is ‘n voorbeeld van 10 take wat jy vir die ouers op ‘n bladsy of weekliks per WhatsApp kan aanstuur:

  1. Tel ‘n sak rommel op.
  2. Help Pa/Ma/Ouma/Oupa met ‘n taak in die huis.
  3. Glimlag vandag vir 10 mense.
  4. Laat Pappa/Mamma ‘n foto neem van jou wat ‘n hartjie wys met jou hande en stuur dit vir jou kategeet oom of tannie of dominee EN iemand anders in jou familie met ‘n hartjie emoji.
  5. Pak saam as familie ‘n kospakkie van enige oorskietkos aan julle Kerstafel en gee dit vir iemand.
  6. Maak vir ‘n oom en/of tannie wat alleen is in jul buurt/kompleks/kampplek ‘n mooi Kerskaartjie en gee dit vir hulle.
  7. Gee vir almal in jou gesin vandag ‘n high five as hulle iets vir jou doen –bv. vir jou kosmaak, vir jou aantrek, sonbrandroom smeer, iets gee, storie lees of help met ietsie.
  8. Maak vir iemand in jou familie ‘n koppie koffie/tee of glas koeldrank.
  9. Vertel vir iemand die Kersfeesstorie.
  10. Soek vir ietsie in die natuur soos ‘n klippie, blaar of skulpie wat soos ‘n hartjie lyk en gee dit vir iemand.

Hierdie is maar net ‘n paar gedagtes om hierdie geloofsgewoonte van dade op lekker praktiese maniere te oefen.

 

Luister hier na die podcast:

 

Leave a Reply