Skip to main content

Johan Botes gesels vandag oor hoe om ons erfenis as kinders van God te vier.

Erfenisdag is natuurlik ook bekend as braaidag. Braai is iets wat eg aan Suid-Afrika is en almal in ons land het al iets geëet wat op vuurwarm kole gaar gemaak is, van wors tot mielies, tjoppies tot potjiekos. Verskillende kulture en groepe mense het verskillende gewoontes en gebruike en op braaidag word ons aangemoedig om mekaar beter te leer ken deur saam te eet. Deur saam te eet is al van die begin van tyd af vir mense ‘n wonderlike manier om bymekaar te kom en stories te deel of oor te vertel.

So kry ons ook in die Bybel en vandag nog mense wat die stories van hulle geloof deel en vertel rondom ‘n lekker ete.

Christene hou gewoonlik groot etes rondom Kersfees en lees dalk weer die storie van Jesus se geboorte. Joodse mense het ander feeste waar hulle die storie van die uittog uit Egipte vertel en Moslem mense vier byvoorbeeld die einde van vas met ‘n groot ete.

Wanneer ons ons erfenis vier, is dit ook dalk ‘n geleentheid om nie net ons erfenis as Suid-Afrikaners te vier nie, maar ook ons erfenis as kinders van God – en ons kan dit ook doen deur saam te eet. Ons saam-eet-geleentheid met Erfenisdag kan ook dalk ‘n geleentheid wees om te vertel van God se voorsienigheid en goedheid. Dalk kan ons stories vertel van dankbaarheid of dalk ‘n oupa of ouma wat ons geloof help vorm het se gunsteling gereg maak en hulle storie vertel.

‘n Erfenisdag saam-eet-geleentheid kan ook ‘n geleentheid wees waar ons nie net verhale vertel van mense wat ons geloof gevorm het of God se goedheid nie, maar dit kan ook ‘n geleentheid wees waar ons die waardes van ons geloof kan uitleef.

Ons erf mos nie net stories en resepte nie, maar ook waardes en opdragte en dalk moet ons hierdie jaar ‘n geleentheid hou waar ons vreemdelinge verwelkom, ‘n ete hou waar enige iemand van die straat af kan kom aansit, dalk ‘n ete waar ons iemand of ‘n gesin nooi wat ‘n ander taal as ons praat of dalk kan ons ‘n ete maak en dit neem om saam met iemand te gaan eet wat dalk geselskap nodig het – soos mense in ‘n ouetehuis.

Wanneer ons Erfenisdag hierdie jaar vier, het ons die geleentheid om met woord en daad ook ons erfenis as kinders van God te vier – selfs terwyl ons braai.

Luister hier na die podcast:

 

Leave a Reply