Skip to main content

Anriëtte de Ridder gesels vandag oor hoe hanteer jy introverte en ekstroverte in jou kategese groep.

Dit is belangrik om ‘n kategese ruimte te skep wat sinvol is vir al die kinders en tieners en wat hulle ouderdom, ervaring, persoonlikheid en leerstyl in ag neem. Daar is heel moontlik introverte en ekstroverte in jou groepie. Waardeer hul unieke persoonlikhede en pas jou benadering aan om almal te kan insluit. Hou ook in gedagte dat jy ook ‘n introvert of ekstrovert is en raak bewus van jou eie voorkeure.

Hier is 10 wenke wat jou kan help:

  1. Beplan aktiwiteite wat beide introverte en ekstroverte tieners sal aanspreek. ‘n Ideale groep is 5-7 leerders groot. As jou groep groter as 10 is, moet jy gereeld in 2 groepies verdeel vir gesprekke, anders gaan die tipe vrae wat ‘n mens gewoonlik vir ‘n kleingroep vra, nie werk nie en introverte kan ophou deelneem en selfs ophou kom.
  2. Betrek ekstroverte studente in die beplannings- en besluitnemingsprosesse. Sommige sal selfs dit geniet om iets voor te berei om te deel of om iets voor te lees.
  3. Respekteer introverte deur vir hulle tyd te gee om eers oor iets na te dink en hulle gedagtes te formuleer. Vra byvoorbeeld ‘n vraag en gee tyd dat elkeen eers hulle antwoorde neerskryf of teken of eers 2-2 met mekaar deel.
  4. Skep soms gestruktureerde gesprekke sodat die ekstroverte nie die hele tyd oorheers nie, deur byvoorbeeld elke week aan die begin vir elkeen ‘n geleentheid te gee om ‘n hoogtepunt en laagtepunt te noem van hulle week. Ysbreker vrae (https://dinkjeug.co.za/ysbrekers-en-kenmekaar-vrae/) of die DinkJeug Glo en Gesels speletjie (https://dinkjeug.co.za/glo-en-gesels-speletjie/) kan ook gebruik word om mekaar beter te leer ken. Op elke kaartjie is daar 2 vrae om uit te kies, wat dit gemakliker maak vir jongmense om te antwoord.
  5. Erken en bevestig elke kind of tiener se antwoord. Moet nooit iemand in die verleentheid stel of met hom/haar stry nie. Kweek ‘n omgewing van wederkerige respek.
  6. As kinders nie wil saamgesels nie, probeer om ‘n oop vraag te vra wat nie ‘n regte en verkeerde antwoord het nie, soos “Wat sou jy wou verander in die storie? Hoe dink jy het die karakter gevoel? Wat sou jy vir hom / haar wou vra? Wat dink jy het hierna gebeur?” ens. of gee vir almal 2 of 3 opsies (wat almal reg is) om uit te kies of selfs kaartjies om mee te “stem”.
  7. Onthou dat kinders of tieners ook op ander maniere kan deelneem. Sommige sal dalk eerder hulpvaardig wil wees, ‘n vraag wil uitdink, of dinge saam wil doen.
  8. Probeer om buite kategese tyd, een tot een tyd met elkeen te spandeer om verhoudings te bou deur byvoorbeeld ‘n draai by hulle huis te maak of hulle sport by te woon.
  9. Onthou om gesprekke af te wissel met doen aktwiteite soos crafts of speletjies of kopkrap spanwerk aktiwiteite. Nie alle kinders leer deur te redeneer of te gesels nie.
  10. Verander soms die omgewing. Sit plat op die vloer op ‘n kombers of buite op die gras. Of staan en gesels met ‘n koppie hot chocolate of koeldrank in die hand. Of stap en gesels. Dit kan dit minder laat voel soos ‘n “klas” en kinders en tieners laat ontspan.

Jesus het soms voor ‘n skare gepreek, maar meestal in ‘n kleingroep beweeg. Soms het Hy ook mense 1 tot 1 bedien. Mag sy voorbeeld jou inspireer om ook kinders en tieners met liefde en begrip te benader met inagneming van hulle elkeen se unieke persoonlikheid.

 

Leave a Reply