Jana Dickason gesels oor hoe ons kinders, tieners en ouers kan toerus tydens die eksamen. Deel gerus hierdie podcast ook met ouers en fasiliteerders.
Ons almal was daardeur en ons almal weet eksamentyd gaan gepaard met angstigheid en spanning. Nie net vir ons jongmense wat die vraestelle skryf nie, maar ook vir ouers wat hulle kinders wil ondersteun.
Dis waar dat spanning soms tieners motiveer om harder te leer en te fokus, maar dit kan ook ongesond wees en iemand se geestelike gesondheid aantas. Ons moet bewus wees van die druk waaronder jongmense en ouers verkeer. Die Covid-19 pandemie se letsels is steeds sigbaar binne ons lewens en veral binne ons onderwyssisteem.
Hier is ‘n paar wenke wat kategete kan help om ouers en tieners in jul kleingroepe te ondersteun:
- Kry vooraf die eksamenrooster van jou spesifieke graad. Maak seker dat jy as kategeet weet wanneer en wat die tieners skryf. Stuur op daardie spesifieke dag ‘n WhatsApp uit en lys hierdie spesifieke vakke sodat tieners weet ons bid en dink aan elkeen van hulle. Dit maak boodskappe van gebed meer persoonlik en tieners voel dat daar ‘n groep is wat hul ondersteun.
- Maak vooraf eksamenpakkies wat julle in die kleingroep ontmoeting uitdeel. Die pakkies hoef nie groot te wees nie – dit kan ‘n bemoedigende teks of gebed vir elke dag bevat, iets soets soos ‘n KitKat wat hulle herinner aan daardie bekende leuse van hulle – “Have a break have a Kitkat”, ‘n persoonlike boodskap van jou as kategeet en ‘n uitnodiging aan ouers en tieners om bekommernisse of gebedsversoeke per WhatsApp met jou te deel. Jy kan selfs ‘n kersie byvoeg om tieners en ouers te herinner dat God elke dag by hulle is en hulle kan hul grootste vrese met Hom deel.
- Herinner tieners dat ontspanning ook nodig is – nooi hulle steeds Sondae na die kleingroepe by die kerk. Dis hier waar ons mekaar ondersteun en ruimte gee om te gesels oor die week wat verby is. Gee meer tyd vir “incheck” geleenthede tydens kleingroepe sodat tieners gemaklik kan voel om te deel hoe dit met hul gaan!
- Motivering is belangrik, maar daar is ‘n fyn balans – as kleingroepleiers kan ons slegs ons tieners motiveer en hulle herinner dat ons aan hulle dink. Moenie klem plaas op dinge wat onnodige angs veroorsaak nie.
- Hou eksamen gesprekke positief. Dis maklik om negatief te praat oor eksamentyd, maar probeer luister en die gevoelens wat tieners in die groep deel te bevestig sodat hulle gehoor voel. Tog moet ons nie toelaat dat negatiewe gedagtes oor eksamentyd die groep oorheers nie.
- Gebruik hulpmiddels soos foto’s of ‘n lys emoji’s om te gesels oor emosies as jy sien kinders en tieners sukkel om hul ervarings te deel en hou gesprekke oop, sodat hulle hul EIE ervarings kan deel.
- Maak genoeg tyd daarvoor dat elkeen rustig deelneem. Onthou, dit gaan oor die proses. Wanneer ons só saamgesels en introspeksie doen, help dit ons om ons emosies en ervarings te verwoord en te verwerk. Dit is eers dan wanneer ons kan ontdek en onthou dat God by ons is in hierdie tyd en ons geloof vorm.
- Vier fees oor vraestelle wat afgehandel word. Kategete en ouers kan selfs ‘n eksamen aftelkalender hou en belonings inbou of ‘n lekker kuier geleentheid by die huis aanmoedig.
- Herinner tieners dat ons ook mekaar moet ondersteun. As gelowiges vier ons saam fees en is ons ook daar vir mekaar in moeilike tye!
- Ouers en kleingroepleiers moet tieners herinner dat hulle altyd daar sal wees om na hulle te luister en te ondersteun. Moedig ook hierdeur kommunikasie aan.
Hier is ‘n paar vrae wat jy as leier, kategeet of ouer kan gebruik om jou te help om jongmense toe te rus om eksamen beplanning te doen en ook ervarings te deel. Let wel – sekere vrae sal slegs deur ouers toegepas word om hul tieners te help.
Vrae wat jy kan vra:
- Kan ek jou help met jou skedule tydens die eksamen?
- Wat was vir jou hoogte- en laagtepunte vir die dag of week?
- Wie het jou die meeste aangemoedig vandag?
- Het jy jou doelwit bereik?
- Wat het deur jou gedagtes gegaan?
- Hoe het jy gevoel? En hoe voel jy nou?
- Het iets (van jouself) jou verbaas?
- Wat was vir jou verrassend?
Ouers moet ook bewus wees dat daar wel ‘n mate van spanning as normaal beskou kan word tydens eksamentyd. Spanning mag baie kere ook ons liggame fisies beïnvloed bv. maagpyn, hoofpyn en slapeloosheid. Indien jy die onderstaande simptome raaksien in jou kind se gedrag, kan jy uitreik na hulle en vra hoe jy kan help. Indien dit hulle verhinder om elke dag te funksioneer in hul roetine en uitdagings, kan verdere kenners geraadpleeg word soos jou huisdokter:
- Onderbroke slaap
- Wisselmatige eetgewoontes
- Lae selfvertroue
- Verhoogde frustrasie of woede
- Hoofpyne, ekseem, of selfs vel uitslae
Luister hier na die podcast: