Driaan Pretorius gesels vandag oor die waarde van herhaling.
“Jy sal dit oor en oor doen, totdat jy dit reg doen.” Klink dit bekend? Ek hoor nou my laerskool juffrou se stem.
Ons is geneig om herhaling as iets onaangenaams te sien. Dink maar aan Pappa wat sê: “Moenie dat ek myself moet herhaal nie, Boeta!”, of om jou graad te herhaal…
Maar herhaling is nie altyd sleg nie. Herhaling is nodig om dinge vas te lê in my brein, wat ek weer op ‘n ander stadium kan gebruik, veral as ek dit dringend benodig. Dink maar aan jou “password” of selfoon nommer wat jy moes herhaal in jou kop om dit permanensie te gee.
Herhaling lei tot memorisering. Wanneer ek iets gememoriseer het, is dit later deel van my. Dis soos tande borsel. Toe ons klein was, moes ons leer hoe om ons tande te borsel. Vandag borsel ek en jy ons tande sonder om eers daaroor te dink. Dit het nou ‘n spiergeheue (muscle memory) geword. Maar as iemand jou sou vra hoekom borsel jy jou tande, glo ek sal jy dit kan antwoord.
So kan herhaling ons ook help in ons geloofsgroei. Maak gou jou oë toe en dink gou vir ‘n oomblik aan al die dinge wat ons op ‘n Sondag in die kerk herhaal. Wat kom alles nou by jou op?
Die dominee wat ons aan die begin groet met ‘n aanhaling vanuit die Bybel – ons noem dit die Votum en Seëngroet. Hy/sy groet ons namens die Here en bevestig dat die Here nou in die Gees hier teenwoordig is. Dis mos lekker om te hoor dat die Here my raaksien en my so groet. Aan die einde van die erediens stuur die dominee ons uit met ‘n seën, wat hy/sy namens die Here doen. Dink net, die Here beloof nou om die hele week verder by my en jou te wees. Nog iets wat ons saam as gemeente hardop herhaal, is die Apostoliese Geloofsbelydenis.
Die Apostoliese Geloofsbelydenis, wat ook bekend staan as die Twaalf Artikels, is een van die drie ekumeniese belydenisskrifte wat ons in die NG Kerk bely en wat ook vervat is in die Heidelbergse Kategismus, vraag 22 en 23.
Ons kan die Apostoliese Geloofsbelydenis al soos ‘n rympie opsê, omdat ons dit gereeld herhaal het en dit in my brein gestoor is. Maar het jy al stil gesit en dit stadig vir jouself opgesê en aan elke gedeelte gedink oor wat presies elkeen beteken? Wat dit beteken om te kan sê: EK GLO!
Ons leef in ‘n wêreld wat die Here se bestaan bevraagteken. ‘n Wêreld wat verward is en self soek na identiteit. ‘n Wêreld wat ons wil deurmekaar maak, omdat hy deurmekaar is en ons wil leer dat ons okay is en nie ‘n Verlosser nodig het nie. ‘n Wêreld wat ons wil laat twyfel in ons geloof, omdat hy nie glo nie.
Dis in sulke tye wat ek en jy moet stil raak, diep asemhaal en onsself weer moet herinner daaraan dat GOD MY PAPPA IS en hiér by my is deur sy Gees – Ek glo in God die Vader.
Dat Hy nie ‘n feeverhaal of ‘n mooi gedagte is nie, maar dat Hy die Skepper van die hemel en die aarde is.
Dat ek ‘n Verlosser nodig het om my te red van hierdie doodsbestaan, hierdie sondige wêreld en dat Jesus Christus daardie Verlosser is en dat Hy vir my, in my plek, kom sterf het aan ‘n kruis op Golgota.
Dat ek voluit kan lewe sonder om bang te wees, want Jesus het die dood oorwin en op die derde dag uit die dood uit opgestaan en Hy lewe en sit nou aan die regterhand van God en Hy tree vir my in by God die Vader.
Dat ek geliefd is en nie alleen is nie, want die Heilige Gees is by my. Ja, Hy woon selfs hier binne my en wil my lei op die pad wat ek moet stap.
Ek hoef vir niks en niemand bang te wees nie, want God is vir my, niks kan my van sy liefde skei nie. Hy het my sondes vergewe en ek sal vir ewig lewe.
Sjoe, ek kry sommer hoendervleis as ek nou so aan ons geloofsbelydenis dink. Behalwe dat dit vir ons versekering gee in tye van nood en seer, help dit ook om ons geloof te kan verwoord.
1 Petrus 3 vers 15 sê: “In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.”
Kom ons herinner onsself, mekaar en die wêreld, wat ons glo. Kom ons herhaal dan saam die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Twaalf Artikels.
- Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde
- En in Jesus Christus, sy enig-gebore Seun, ons Here;
- Wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria:
- wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
- wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
- wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
- van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
- Ek glo in die Heilige Gees.
- Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
- die vergewing van sondes;
- die opstanding van die vlees;
- en ’n ewige lewe.
Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.
Romeine 15:13
Luister hier na die podcast: