Marinette Kilpert gesels vandag oor die hoekom en hoe van Bybelgebruik in kategese.
Wat maak jou en jou beste vriend se vriendskap so uniek? Julle gesels seker? Spandeer tyd saam, doen aktiwiteite of stuur dalk selfs grappies vir mekaar? As julle mekaar ignoreer of nie meer tyd saam gaan spandeer nie, gaan dit ‘n effek op julle verhouding hê.
Dit is presies hoe ons verhouding met Jesus is. Ons moet ook met Hom tyd spandeer om ‘n goeie verhouding met Hom te hê. Een van die maklikste maniere om dit te doen, is om jou Bybel te lees. Dit is hoekom dit so belangrik is dat kinders weet hoekom ons die Bybel moet gebruik en dan prakties, hoe om die Bybel te gebruik.
“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” Johannes 1: 1
Die Bybel is God se manier om met ons te kommunikeer, verhouding te bou, tyd saam te spandeer en vir ons om Hom beter te leer ken. Net soos ‘n vriendskap tyd, aandag en omgee nodig het om te groei, net so het ons tyd saam met die Here se Woord nodig om in ons verhouding met Hom te groei.
Dis nou alles goed en wel, maar wat nou? Hoe kan ons, as volwassenes, dit vir vandag se kinders so maklik as moontlik maak om die Bybel te gebruik en om tyd met God se Woord te spandeer?
Hier kom die “hoe” van Bybelgebruik tydens kategese, en by die huis:
- Eerstens, wees die voorbeeld. As jy, as kategese leier of ouer, opgewonde en entoesiasties is om jou eie Bybel te gebruik, sal daardie opgewondenheid na die kinders oorspoel.
- Maak seker jy het jou Bybel by jou tydens kategese en lees daaruit (nie net van ‘n Bybel app op jou foon nie). Die kinders moet kan sien hoe jy die Bybel gebruik.
- Maak seker dat elke kind wel ‘n Bybel het. Moenie net ‘n aanname maak dat elke kind een het nie. (Indien ‘n kind nie ‘n Bybel het nie, kyk of daar nie ‘n reëling by die kerk getref kan word nie.)
- Nooi dan die kinders uit om hulle Bybel kategese toe te bring. Gebruik ‘n beloningstelsel om kinders aan te moedig en gee ‘n verrassing aan die einde van die maand of kwartaal.
- Gebruik die Bybel prakties tydens die les. Byvoorbeeld:
- Wys vir hulle hoe om ‘n Bybelboek in die indeks te soek. Dit kan in ‘n resiesformaat met ‘n prys gedoen word deur vir elke kind ‘n teksvers te gee wat hy of sy moet soek.
- Laat hulle in kleiner groepe saam verskillende teksverse, wat by die dag se boodskap pas, soek.
- Laat hulle hardop saam met jou uit die Bybel lees.
- Laat hulle verskillende Bybel-weergawes se teksgedeeltes met mekaar vergelyk.
Dit is net so belangrik vir die kinders om te weet dat die Bybel God se manier is om met hulle te praat. Laat hulle ‘n paar kern teksverse in hulle Bybel merk, wat hulle as aanmoediging kan gebruik.
Byvoorbeeld:
- Lees Psalm 23 vers 1 – 6 wanneer jy vertroosting nodig het.
- Lees Jakobus 1 vers 2 – 8 wanneer jy wysheid nodig het.
- Lees Sefanja 3 vers 17 as jy wil weet hoe God oor jou voel.
En hierdie is maar net ‘n paar voorbeelde.
Onthou: As jy opgewonde is om die Bybel te gebruik om jou verhouding met die Here te versterk en om meer van Hom te leer, sal hulle dit ook wil doen. Wees die voorbeeld.
Luister hier na die podcast: