Skip to main content

Hoe kan ons bejaarde lidmate deel maak van ons jeugbediening?

Jean van Niekerk gee 3 wenke om ons senior lidmate by ons jeug betrokke te kry en ook andersom.

  1. Gasvryheid:  Gee die kinders geleentheid om op ‘n Sondagoggend die senior lidmate by die diens te verwelkom.  In die geval waar daar ‘n spesiale diens vir die kinders is, vra dan ‘n paar van die senior lidmate om die jeug te verwelkom by die deure.
  2. Uitreike:  Reël uitreike na die aftree-oorde in jou omgewing.  Laat die kinders vooraf blomme pluk, briefies skryf of kaartjies maak en dan aan die inwoners uitdeel as hulle daar gaan kuier.  Kinders kan soms baie skaam wees, so gee vooraf ‘n kaartjie met ‘n paar vrae of onderwerpe waaroor hulle kan gesels.  Goeie geleenthede vir hierdie uitreike is Moedersdag en Vadersdag.  Baie van hierdie mense word nie deur hulle kinders besoek op hierdie dae nie en is baie alleen.  So ‘n besoek van ‘n vriendelike vreemdeling kan hul dag maak!
  3. Konserte:  Laat die jeugbediening ‘n Kerskonsert opvoer by die aftree-oorde of net ‘n paar liedjies gaan sing op ‘n Sondag of sommer êrens in die vakansie.

Wanneer kan jou gemeente wegspring?
Op Sondag, 1 Oktober 2023, is Biddag vir Bejaardes.  Hierdie is jou kans om die bejaardes spesiaal uit te nooi vir ‘n diens en vir hulle iets spesiaals te doen.  Laat die kategete hul oumas en oupas uitnooi en hou ‘n ouma-en-oupa-dag by die jeuggroepe of selfs na die diens.  Die kinders kan die oumas en oupas met ‘n koppie tee en ‘n lekkerny bedien en dan saam met hulle aan die tafel sit.  Gee vir die kinders ‘n briefie met vrae wat hul aan ouma en oupa kan vra oor hulle kleintyd in hulle kerk.

Moets en Moenies
Moenie na ouer lidmate in ‘n verkleiningsvorm verwys nie, soos bv. “oumatjie”, “oupatjie” of “mensies” nie.  Moet liefs nie die jonger kinders in ‘n siekeboeg instuur nie; dit kan ontstellend wees.  Moenie net opdaag by ‘n aftree-oord nie, maar reël vooraf toegang met die bestuur.

Luister hier na die podcast:

 

 

Leave a Reply