Marinette Kilpert gesels vandag oor: Hoe kan ons die gesondheidsdienste bewus maak dat ons vir hulle bid?
Gesondheidsdienste is van ons dokters en verpleegsters, tot tandartse en oogartse, selfs ambulans- en nooddienste sowel as tuisversorgers.
Die laste van ‘n gesondheidsorgwerker is soms swaarder as wat die gemiddelde persoon alleen kan dra. Ons word in Galasiërs 6 vers 2 deur die apostel Paulus opdrag gegee: “Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag. Dit is immers sy wet dat julle mekaar moet liefhê.”
Een van die beste maniere waarop ons dit kan doen, is deur vir ons gesondheidsdienste te bid.
Daar kan op verskillende kreatiewe maniere vir die gesondheidsdienste gebid word, soos:
- Deur gebedstasies te maak waar die kinders kerse kan aansteek, dankie op ‘n kaartjie skryf en dit teen ‘n kruis plak of ‘n pleister met die teksvers Galasiërs 6:2 op hul hand plak.
- Maak ‘n gebedsbandjie met vier verskillende kleure kraletjies wat die vier verskillende gesondheidsdienste verteenwoordig.
- Maak ‘n lys van jou gemeente se lidmate wat in die gesondheidsdienste werk en laat die kinders vir hulle ‘n persoonlike kaartjie maak en vir daardie spesifieke persoon bid.
Maar hoe sal hulle dan weet daar word vir hulle gebid?
- Deel die kaartjies wat die kinders gemaak het aan die lidmate uit.
- Maak video opnames van die kinders waar hulle bemoedigende boodskappe voorlees en stuur dit aan die plaaslike gesondheidsdienste.
- Skep ‘n omgee-WhatsApp groep waar die kinders opbouende boodskappe kan stuur.
- Nooi die gesonheidsdienste-werkers in jou gemeente uit na ‘n spesiale diens waar daar spesifiek vir hulle gebid word.
- Hulle kan selfs ‘n demonstrasie kom gee waar hulle die uitleg en toerusting van ‘n ambulans verduidelik.
- Maak gebruik van ‘n dag soos Mandela-Dag om omgee-pakkies op te maak en vir hulle te neem.
Dit kan selfs ‘n uitreik geleentheid na jou plaaslike gesondheidsdiens wees, of selfs ouetehuis.
- Maak seker dat daar vooraf met ‘n administratiewe persoon gereël word dat die kinders kom kuier.
- Berei ‘n paar liedjies voor wat gesing kan word.
- Onthou om ‘n klein geskenkie soos ‘n sjokolade, kaartjie of blommetjie agter te laat.
Op hierdie verskillende maniere sal gesondheidswerkers beslis weet daar word vir hulle omgegee en vir hulle gebid.
Luister hier na die podcast: