Santie Nel gesels vandag oor ‘n onderwerp wat ons almal naby aan die hart lê: Bid vir en ondersteun ons beskermingsdienste.
Ons polisie, brandweer, paramedici en ander eerstehulpverleners is die helde wat elke dag ons gemeenskappe veilig hou.
Gebed is ‘n kragtige instrument wat julle kleingroep kan gebruik om hulle te ondersteun en so ook ons waardering vir hulle te toon.
Ons beskermingsdienste is die ruggraat van enige welvarende gemeenskap. Hulle storm in gevaar in wanneer ons hulp nodig het, en hulle werk onvermoeid om ons veiligheid te verseker.
Ons beskermingsdienste staar ongelooflike uitdagings in die gesig op ‘n daaglikse basis – van die hanteer van noodgevalle en rampe tot die handhawing van orde en veiligheid. Hulle werk is ongelooflik stresvol en veeleisend. Wanneer ons vir hulle bid, bied ons ‘n bron van krag en hoop wat hulle kan help om hierdie uitdagings met veerkragtigheid aan te pak.
Maar dit hou nie daar op nie. Ons kan ook praktiese stappe neem om hulle op ‘n tasbare manier te ondersteun:
- ‘n Eenvoudige “dankie” kan ‘n lang pad gaan om hul dag ‘n bietjie helderder te maak. Julle kan dankie-nota’s skryf, bederfpakkies gaan aflaai of daar kan tyd ingeruim word in ‘n erediens waarna hulle genooi word en dan kan daar vir hulle ‘n spesiale gebed gedoen word. Die 19de November hierdie jaar is juis Biddag vir Beskermingsdienste. Nooi jou gemeentelede en hulle vriende wat in die beskermingsdienste is, uit om die 19de met hulle uniforms kerk toe te kom.
- ‘n Ander manier om ons beskermingsdienste te ondersteun, is om betrokke te raak by plaaslike inisiatiewe en vrywilligerswerk te doen. Baie gemeenskappe het programme wat jou in staat stel om direk by hulle inisiatiewe betrokke te raak. Deur aktief deel te neem, kan jy ‘n werklike verskil maak.
- Gebed bly een van die belangrikste maniere hoe ons ons beskermingsdienste kan ondersteun. Maak ‘n nota om elke dag vir die volgende week vir hulle te bid. Bid ook elke keer wanneer jy een van hulle noodvoertuie sien of die sirenes hoor. Bid ook vir die personeel en die pasiënte as julle verby ‘n toneel ry waar ons beskermingsdienste besig is om te werk.
- Dit is natuurlik ook ‘n realiteit dat ons beskermingsdienste aan die werk gaan wees oor die Kerstyd, terwyl ons tyd saam met ons familie en vriende spandeer. Oorweeg dit dalk om een jaar die beskermingsdienste in julle omgewing te bederf met bv. koekies wat julle gekoop het, of dalk as ‘n groep saam gebak het.
Onthou dat ‘n klein daad van vriendelikheid, ‘n opregte gebed, of ‘n eenvoudige “dankie”, ‘n wêreld se verskil in die lewens van diegene maak wat ons gemeenskappe beskerm en dien.
Deel hierdie boodskap met jou kleingroep en gemeente, sodat ons saam ‘n positiewe impak op die lewens van ons beskermingsdienste kan maak.
Luister hier na die podcast: