Skip to main content

Anriëtte de Ridder gesels vandag oor hoekom ouer of bejaarde mense betrek moet word by die jeugbediening.

Een van die belangrikste gawes in die NG kerk is die groot getal bejaardes in ons gemeentes. In plaas daarvan om hulle te sien as ‘n hindernis vir die jeugbediening, kan hulle deel word van die oplossing. Ja, ouer mense kla dikwels oor ‘n informele styl van eredienste of oor enige vorm van verandering. Maar ouer mense wil ook ten diepste, soos elke ander mens, voel hulle maak ‘n verskil.

Luister hier na die podcast:

Ek gesels onlangs met ‘n kerkraadslid op ‘n plattelandse dorp wat ‘n jaar gelede ‘n weduwee geword het. Sy vertel vir my dat haar kinders wil hê dat sy moet nader aan hulle trek, Bloemfontein toe, omdat sy geen familie op die dorp het nie. Maar sy kan nie, want volgens haar, voel sy vir die eerste keer in haar lewe dat sy ‘n verskil maak. Sy is by die kerk betrokke, en talle verenigings, en sy besoek eensame bejaardes. Sy gesels met opwinding en ‘n vonkel in haar oog oor hoe die Here haar gebruik in hierdie nuwe hoofstuk van haar lewe.

Nou wat sou gebeur as elke persoon wie se kinders uit die huis is, en elke bejaarde persoon in jou gemeente, net so opgewonde sou wees om betrokke te wees by jongmense en kinders? Dink net as hulle met ‘n vonkel in hulle oog kon vertel hoe die Here hulle gebruik in kinders se lewens. Dalk dink jy dit sal nooit kan werk nie, die gaping is te groot, maar het jy geweet? Die grootste behoefte by jongmense en kinders is bloot volwassenes wat omgee, na hulle luister en in hulle belangstel.

Hier is ‘n paar wenke om ouer persone te betrek:

  1. Gebruik die kindermoment in die erediens om bejaardes en kinders aan mekaar voor te stel – bv. laat die kinders vir die bejaardes vra watter speletjie hulle gespeel het as kind of laat die tieners vir die bejaardes ‘n lys gee van hulle eksamen datums sodat hulle vir die jongmense kan bid.
  2. Gebruik die tee-drink geleentheid na die erediens om jonger mense aan ouer mense bekend te stel. Maak ‘n speletjie daarvan deur vir gesinne en bejaardes verskillende nommers of kleure plakkers uit te deel. Die jongmense of gesinne moet dan die bejaarde met die ooreenstemmende kleur of nommer vind en hulle self voorstel en saam tee drink.
  3. Verbind ouer mense wie se kinders al groot is as mentors aan doopouers. Laat hulle mekaar ontmoet by die doop kursus en dan een keer per maand help met baba oppas of ten minste hoor hoe dit gaan met die nuwe ouers.
  4. Nooi ouer persone by geleentheid na die jeug aktiwiteite. Laat die kerkraad pizza eet met die belydenisklas, laat die inwoners van die aftreeoord help met speletjies aanbied by die kinderkerk, laat ouer persone vertel oor hulle verskillende beroepe aan die graad 9 groep wat moet vakke kies, laat bejaardes die kategese besoek en almal vir mekaar vertel wat hulle geliefde Bybelstories is. Of laat tieners as ‘n uitreik ‘n Bybelstudie groep besoek om ouer persone te help met hulle fone.
  5. Gee vir elke tiener ‘n ouer mentor / bederf oom en tannie wat bid vir hom en haar en moeite doen met die tiener. Gee kaartjies met vrae en doen idees sodat hulle iets het om oor te gesels.
  6. Leer vir bejaarde persone om die DinkJeug Familie App op hulle fone af te laai en te gebruik om met hulle kleinkinders huisgeloof te doen.

Ons het ‘n skat in die kerk wat wag om ontdek te word – ouer en bejaarde mense wat hulle tyd, wysheid en omgee kan gee om kinders en jongmense te bedien. Dit kan ‘n kragtige invloed hê in die vorming van geloof van die volgende generasie.

2 Comments

  • Anita Retief says:

    Baie baie dankie vir die besondere “inspuiting” tov bejaardes saam met jeugbediening.
    Gaan dit beslis meer implementeer in ons jeugbediening in Suiderhof gemeente Windhoek.
    Leer so baie drur “Dink jeug”

Leave a Reply